Amos 6 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Wee dié wat gerus is in Sion,

dié wat hulle veilig voel

op die berg Samaria,

die hooggeplaastes van die mees

vooraanstaande nasies,

na wie die huis van Israel kom.

2 Gaan oor die grens na Kalne en kyk;

loop van daar na Hamat-Rabba,

en gaan af na Gat van die Filistyne.

Is julle beter as hierdie koninkryke,

of is hulle grondgebied groter as julle s'n,

3 julle wat die dag van onheil

as ver beskou,

maar die gewelddadige einde

nader bring?

4Hulle lê op beddens met ivoorinleg,

luier rond op hulle sofas,

eet lammers uit die trop kleinvee

en kalwers uit die stal.

5 Hulle neurie met begeleiding

van die harp;

soos Dawid, improviseer hulle

op musiekinstrumente.

6 Hulle drink offerbakke vol wyn;

met die beste olies salf hulle hulleself;

maar hulle treur nie oor

die ondergang van Josef nie.

7 Daarom sal hulle nou

in ballingskap gaan

aan die voorpunt van die ballinge;

die gefuif van dié wat rondluier,

kom tot 'n einde.

8 My Heer, die Here,

het by Homself gesweer;

die uitspraak van die Here,

die God van alle magte, is:

“Ek verafsku die hoogmoed van Jakob,

en sy vestings haat Ek.

Ek gaan die stad en alles daarin

oorlewer.”

9As daar tien mense in 'n enkele huis oor is, sal hulle sterf.

10 En wanneer 'n familielid, die een wat die lyk moet versorg, dit optel om dit uit die huis te neem en vir iemand wat agter in die huis is, vra: “Is daar nog by jou?” en hy antwoord: “Dis klaar!” sal hy sê: “Bly net stil! Want die Naam van die Here moet nie genoem word nie.”

11 Want kyk, die Here gee opdrag,

en Hy slaan die groot huis aan stukke

en die klein huis tot splinters.

12 Hardloop perde op 'n rotswand

of ploeg 'n mens dit met osse?

En tog het julle die reg

in 'n giftige plant verander

en die vrug van geregtigheid

in wildeals.

13Julle is bly oor Lo-Dabar.

Julle sê: “Het ons nie met eie krag

Karnajim vir ons verower nie?”

14“Maar kyk, Ek laat teen julle,

huis van Israel, 'n nasie optrek,”

is die uitspraak van die Here,

die God wat Heerser is

oor alle magte,

“en hulle sal julle onderdruk

van Lebo-Hamat tot by

die droë loop van die Araba. ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help