Jesaja 47 - Die Bybel 2020-vertaling

Val van Babel

1 “ Klim af, sit in die stof,

maagdelike dogter van Babel!

Sit op die grond, sonder 'n troon,

dogter van die Galdeërs!

Want hulle sal jou nie langer

die saggeaarde

en die fynbesnaarde noem nie.

2Neem 'n handmeul en maal koring!

Haal jou sluier af,

lig die lang kleed op,

ontbloot jou dye,

steek riviere oor!

3 Jou naaktheid sal ontbloot word,

en ook jou skande sal gesien word.

Wraak gaan Ek neem;

Ek sal geen mens tegemoetkom nie. ”

4 Ons losser, die Here, Heerser oor alle magte

is sy Naam,

die Heilige van Israel.

5“Sit in swye,

gaan die duisternis binne,

dogter van die Galdeërs!

Want jy sal nie langer genoem word

heerseres van koninkryke nie.

6 Ek was toornig op my volk,

Ek het my eiendom ontwy;

Ek het hulle in jou hand oorgegee.

Jy het nie aan hulle barmhartigheid

bewys nie.

Selfs op ou mense het jy jou juk

baie swaar gemaak.

7 Jy het gedink:

Vir altyd sal ek daar wees,

'n heerseres vir ewig.

Jy het hierdie dinge

nie ter harte geneem nie;

jy het nie aan die afloop daarvan

gedink nie.

8Daarom, luister hierna,

wellustige wat rustig woon,

wat in haar hart sê:

Ek is die een,

en niemand anders nie;

ek sal nie as 'n weduwee sit nie;

ek sal nie kinderloosheid ervaar nie.

9Die volgende twee dinge kom oor jou,

skielik, binne 'n enkele dag:

kinderloosheid en weduweeskap.

Die volle omvang daarvan sal jou tref

ondanks jou oorvloed towerkunste,

jou talle kragtige towerspreuke.

10Jy het op jou boosheid vertrou;

jy het in jou hart gesê:

Niemand sien my nie.

Jou wysheid en jou kennis,

dit is wat jou verlei het.

Jy het in jou hart gesê:

Ek is die een,

en niemand anders nie!

11Onheil oorval jou,

en jy ken nie beswering daarteen nie.

'n Ramp oorval jou,

en jy kan dit nie afweer nie.

Skielik oorval teenspoed jou,

en jy het dit nie eers vermoed nie.

12Tree maar aan

met jou towerspreuke,

met jou oorvloed towerkunste

waarmee jy jou

van jou jeug af vermoei.

Miskien kan jy daarby baat,

miskien skrik jy mense af.

13Jy sloof jou af met jou baie planne.

Laat hulle maar aantree en jou verlos –

die sterrewiggelaars,

die sterrekykers wat elke maand

bekend maak wat jou gaan oorkom.

14Kyk, hulle het soos strooi geword,

vuur verbrand hulle.

Hulle kan hulleself nie red

uit die greep van die vlamme nie –

dit is nie gloeiende kole

om hulle warm te maak nie,

nie vuur om langs te sit nie.

15 Só het almal vir jou geword,

jou handelsvennote vir wie jy

jou vermoei het van jou jeug af.

Elkeen van hulle dwaal af,

sy eie koers in;

daar is niemand wat jou verlos nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help