Jesaja 59 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Kyk, die hand van die Here

is nie te kort om te verlos nie,

sy oor is nie hardhorend,

sodat Hy nie kan hoor nie.

2 Maar julle sondeskuld,

dit het skeiding gebring

tussen julle en julle God.

Julle sondes het Hom sy gesig

vir julle laat verberg,

sodat Hy nie luister nie;

3 want julle handpalms

is deur bloed besoedel,

en julle vingers

deur sondeskuld.

Julle lippe praat leuens,

julle tonge prewel ongeregtigheid.

4Niemand beroep hom

op geregtigheid nie,

en niemand bepleit sy saak

met die waarheid nie.

Hulle vertrou op nietighede,

en maak valse uitsprake.

Hulle raak swanger van moeilikheid,

en gee geboorte aan onheil.

5 Hulle broei die eiers van kobras uit,

en weef spinnerakke.

Wie van daardie eiers eet, sterf;

en as dit stukkend gedruk word,

peul daar adders uit.

6Hulle spinnerakdrade deug nie

vir klere nie –

met hulle handewerk kan mense

hulleself nie bedek nie.

Hulle handewerk is onheilswerk –

dade van geweld is in hulle hande.

7 Hulle voete hardloop na die kwaad;

hulle haas hulle om onskuldige

bloed te vergiet.

Hulle planne is planne van onheil;

daar is verwoesting en vernietiging

op hulle hoofpaaie.

8 Die pad van vrede ken hulle nie.

Daar is geen regverdige optrede

op hulle roetes nie.

Hulle maak self hulle paaie

vol kinkels;

niemand wat daarop loop,

ervaar vrede nie.

9Daarom is regverdigheid

ver van ons,

geregtigheid bereik ons nie.

Ons wag op die lig,

maar kyk, daar is duisternis –

op 'n ligskynsel,

maar ons dwaal in die donker.

10Ons tas soos blindes aan 'n muur,

asof sonder oë tas ons rond.

Ons slaan helder oordag neer,

asof dit skemeraand is;

ons slaan tussen gesondes neer,

asof ons dooies is.

11Soos bere grom ons almal,

soos duiwe kla ons aanhoudend.

Ons wag op regverdigheid,

maar daar is niks nie –

op verlossing,

maar dit bly ver van ons.

12 Want ons oortredings voor U is baie,

ons sonde getuig teen ons.

Ja, ons oortredings is met ons,

en ons sondeskuld – ons ken dit:

13Ons oortree teenoor,

en verloën die Here;

ons draai weg van ons God af

deur te praat oor afpersing

en wat vals is.

Ons het swanger geraak

van leuentaal,

en prewel dit uit die hart.

14So is regverdigheid teruggedwing,

en bly geregtigheid ver weg staan.

Ja, op die dorpsplein

struikel die waarheid,

en openhartigheid

kan nie daar kom nie.

15So gebeur dit dat trou ontbreek.

Wie afwyk van die kwaad,

word beroof.

Die Here sien dit,

en dit is verkeerd in sy oë dat daar

geen regverdigheid is nie.

16 Hy het gesien dat daar niemand is nie,

en was verbaas dat niemand tussenbeide tree nie.

Sy voorarm het Hom bygestaan,

en sy geregtigheid,

dit het Hom ondersteun.

17 Hy het geregtigheid aangetrek

as 'n harnas,

met die helm van verlossing

op sy hoof.

Hy trek klere van wraak

as sy uitrusting aan;

Hy draai Hom toe in ywer

soos in 'n mantel.

18 Volgens verdienste vergeld Hy:

woede vir sy teenstanders,

en wat hulle verdien, vir sy vyande.

Die eilande vergeld Hy

volgens verdienste.

19 In die weste sal hulle ontsag hê

vir die Naam van die Here,

in die ooste vir sy heerlikheid.

Want Hy sal kom soos 'n rivier

in 'n vernouing,

wat deur die wind van die Here

voortgedryf word.

20 “'n Losser sal na Sion kom;

Hy sal na dié in Jakob kom

wat hulle bekeer van oortredings,”

is die uitspraak van die Here.

21“Wat My betref,

dit is my verbond met hulle,”

sê die Here:

“My Gees wat op jou rus

en my woorde wat Ek

in jou mond gelê het,

sal nie uit jou mond wyk,

of uit die mond

van jou nageslag,

of uit die mond

van jou nageslag se nageslagte nie,

van nou af en vir altyd,” sê die Here.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help