Jesaja 10 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Wee hulle wat vaste voorskrifte

van onreg uitvaardig,

skrywers wat voortdurend

iets neerskryf wat moeite besorg –

2 om die regte van armes

te dwarsboom,

om die magteloses van my volk

van hulle reg te ontneem,

sodat weduwees hulle buit

kan word,

en hulle die vaderloses kan beroof.

3 Wat gaan julle doen

op die dag van afrekening,

tydens die storm

wat uit die verte aankom?

Na wie sal julle vlug vir hulp,

en waar gaan julle

julle rykdom agterlaat?

4 Niks daarvan nie!

Hulle sal tussen gevangenes

die rug buig,

en tussen gesneuweldes val.

Ondanks dit alles het sy toorn

nie bedaar nie,

en bly sy hand steeds uitgestrek.

5 “Wee Assirië,

die stok van my toorn!

My verontwaardiging –

'n staf is dit in hulle hand.

6 Teen 'n nasie, vervreem van God,

stuur Ek hom;

teen die volk op wie my gramskap rus,

gee Ek hom volmag,

om oorlogsbuit te roof

en buit te maak,

om van hulle 'n vertrapte ding,

soos die kleigrond van strate,

te maak.

7Maar hy het dit nie so bedink nie,

sy hart het dit nie so beplan nie;

want sy voorneme was

om uit te delg,

om tallose nasies uit te roei.

8Hy het immers gesê,

‘Is my bevelvoerders

nie almal konings nie?

9Is Kalno nie soos Karkemis,

en Hamat soos Arpad

of Samaria soos Damaskus nie?

10 Soos my hand die koninkryke

van nuttelose afgode bekom het,

hulle wie se gesnede beelde

dié van Jerusalem

en Samaria oortref het –

11sal ek dan nie met Jerusalem

en haar afgode maak

net soos ek met Samaria

en haar nuttelose afgode gemaak het nie?’ ”

12 En dan, wanneer my Heer al sy werk op die berg Sion en in Jerusalem voltooi het, sal Hy afreken met die vrug van die grootheidswaan van die koning van Assirië en met die verwaande blik in sy oë,

13omdat hy gesê het:

“Met die krag van my hand

het ek opgetree,

en in my wysheid –

ja, ek het insig.

Ek verwyder die grense van volke,

hulle voorraadkamers plunder ek,

en, as die sterke, slaan ek

wie op trone sit, neer.

14Asof dit 'n voëlnes is,

het my hand die rykdom

van die volke bekom;

soos mens eiers insamel

wat in 'n nes agtergelaat is,

het ek die hele aarde ingesamel.

Daar was nie 'n vlerk wat geklap het,

'n bek wat oopgegaan

of getjirp het nie.”

15 Kan 'n byl spog teen die een

wat met hom kap;

of kan 'n saag hom groot hou

teen die een wat met hom saag,

asof 'n stok die een swaai

wat hom optel,

of 'n staf die een optel

wat nie hout is nie?

16Daarom sal die Heer, die Here,

Heerser oor alle magte,

onder Assirië se vet mense

'n uitterende siekte instuur,

en onder sy geëerdes

sal 'n brand uitbreek

wat soos 'n egte vuur sal brand.

17 Die Lig van Israel

sal 'n vuur word,

en sy Heilige 'n vlam.

Die vlam sal brand

en hulle onkruid en doringstruike

op een dag verteer.

18Dit sal die geëerdes

van sy bos en wingerd vernietig –

siel sowel as liggaam.

Dit sal wees soos 'n invalide

wat wegkwyn.

19Wat oorbly van die bome

van sy bos,

sal so min wees dat 'n kind

dit sal kan neerskryf.

20 Op daardie dag sal hulle wat oorgebly het van Israel, en hulle van die huis van Jakob wat vrygekom het, nie verder steun op die een wat hulle slaan nie, maar met getrouheid steun op die Here, die Heilige van Israel.

21 'n Oorblyfsel sal terugkeer, die oorblyfsel van Jakob, na die Magtige God.

22Ja, al was jou volk, Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel daarvan sal terugkeer. Vernietiging is bepaal, in geregtigheid stroom dit –

23ja, volslae vernietiging is wat bepaal is. My Heer, die Here, Heerser oor alle magte, gaan dit midde-in die hele land voltrek.

24 Daarom, so sê my Heer, die Here, Heerser oor alle magte: “My volk wat in Sion woon, moenie bang wees vir Assirië nie! Hy slaan jou met 'n stok; hy lig 'n staf op teen jou, op dieselfde manier as Egipte.

25Ja, nog net 'n rukkie, dan sal die vervloeking tot 'n einde kom, en my toorn sal gerig wees op hulle uitwissing.”

26Die Here, Heerser oor alle magte, sal 'n sweep oor hom swaai soos met die aanval op Midian by die rots van Oreb. Sy staf sal oor die see wees; Hy sal dit ophef op dieselfde manier as in Egipte.

27Op daardie dag sal Assirië se las

van jou skouer val,

sy juk van jou nek,

ook die strop van die juk

voor die skof.

28 Hy het teen Aja opgetrek,

hy het by Migron verbygegaan;

by Migmas het hy sy toerusting

geberg.

29Hulle trek oor die pas:

“Geba is ons oornagplek.”

Rama is vreesbevange,

Gibea van Saul vlug.

30Skreeu hardop, dogter van Gallim!

Luister mooi, Lajesa!

Magtelose Anatot!

31Madmena vlug weg;

die inwoners van Gebim

soek skuiling.

32Vandag nog roep hy halt in Nob.

Hy beduie met sy hand

na die berg van die dogter

van Sion,

die heuwel van Jerusalem.

33Kyk, die Heer, die Here,

Heerser oor alle magte,

gaan met skrikwekkende krag

die blaredak wegkap;

dié wat hoog uitgegroei het,

word afgekap,

die hoës sink neer.

34Hy sal die struikgewas in die bos

uitkap met 'n ysterwerktuig,

en die Libanon, die magtige, sal val.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help