1 Korinthiërs 6 - Die Bybel 2020-vertaling

Hofsake met medegelowiges

1Hoe durf enigeen van julle wat 'n klag teen 'n ander het, dit deur die onregverdiges laat besleg en nie deur heiliges nie?

2Of weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? As die wêreld dan deur julle geoordeel gaan word, is julle onbevoeg vir die nietigste regsake?

3Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie? Hoeveel te meer die dinge van die alledaagse lewe?

4As julle 'n regsgeding oor alledaagse sake het, laat julle dit besleg deur mense wat geen aansien in die •gemeente het nie?

5Ek sê hierdie dinge om julle te beskaam. Is daar dan nie eers een wyse onder julle wat in staat is om reg te spreek oor sy broer nie?

6Maar daag 'n gelowige 'n medegelowige eerder voor die hof, en dit voor ongelowiges?

7Dit is reeds 'n volslae nederlaag vir julle dat julle hofsake teen mekaar maak. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie besteel nie?

8Maar júlle besteel en pleeg onreg, en dit nogal teenoor broers.

Waarskuwing teen 'n goddelose lewe

9 Weet julle nie dat onregverdiges die •koninkryk van God nie sal beërf nie? Laat julle nie mislei nie: Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer,

10of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers, sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie.

11 So was sommige van julle ook, maar julle het julle laat was, julle is geheilig, en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus •Christus en deur die Gees van ons God.

Verheerliking van God met jou liggaam

12“Alles is my geoorloof,” maar nie alles is voordelig nie. “Alles is my geoorloof,” maar ek sal my deur niks laat oorheers nie.

13“Kos is vir die maag en die maag vir kos,” maar God sal die een en ook die ander vernietig. Die liggaam is tog nie daar vir onsedelikheid nie, maar vir die Here, en die Here vir die liggaam.

14 Deur sy krag het God die Here opgewek, en sal Hy ons ook opwek.

15Weet julle nie dat julle liggame ledemate van •Christus is nie? Sal ek dan die ledemate van Christus neem en deel maak van 'n prostituut? Beslis nie!

16Of weet julle nie dat iemand wat met 'n prostituut gemeenskap het, een liggaam met haar word nie? Daar staan immers: “Die twee sal een liggaam wees.”

17 Maar die persoon wat homself aan die Here verbind, is een gees met Hom.

18Vlug weg van onsedelikheid. Elke sonde wat 'n mens doen, is buite sy liggaam, maar iemand wat seksueel losbandig optree, sondig teen sy eie liggaam.

19Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, 'n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie?

20Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help