Psalms 50 - Die Bybel 2020-vertaling

1'n Psalm. Van Asaf.

Die God van die gode, die Here,

het gepraat

en die aarde opgeroep –

van waar die son opkom

tot waar dit ondergaan.

2Vanuit Sion, plek van volmaakte

skoonheid, laat God sy lig straal.

3Ons God kom

en Hy gaan nie stilbly nie;

voor Hom brand 'n verterende vuur,

rondom Hom woed 'n geweldige storm.

4Hy roep na die hemel daarbo,

en na die aarde,

om sy volk te oordeel:

5“Maak my getroue volgelinge

vir my bymekaar,

hulle wat by die offers

my verbond hernu.”

6 Die hemel maak

sy geregtigheid bekend,

want God, Hy is regter. •Sela

7“Luister tog, my volk,

Ek wil my saak stel,

Israel, Ek wil teen jou getuig:

God, jou God, is Ek.

8Dit is nie oor jou offers

wat Ek jou wil teregwys nie;

jou •brandoffers is altyd voor My.

9Ek sal nie uit jou stal 'n bul vat,

bokramme uit jou krale nie,

10want aan My behoort

al die wild in die bos,

die diere op 'n duisend berge.

11Ek ken al die voëls op die berge

en die insekte van die veld

is aan My bekend.

12 As Ek honger word,

sal Ek jou nie sê nie,

want die wêreld en die volheid

daarvan is myne.

13Eet Ek die vleis van bulle,

en die bloed van bokramme,

drink Ek dit?

14 Offer dank aan God,

betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.

15Roep My aan in 'n tyd van nood;

Ek sal jou red, en jy sal My eer.”

16 Maar vir die goddelose sê God:

“Watter reg het jy

om my voorskrifte op te sê

en my verbond op jou lippe te neem?

17Jy is die een wat vermaning haat,

en my woorde verwerp.

18As jy 'n dief sien,

raak jy met hom bevriend,

en met egbrekers hou jy jou op.

19Jy gee jou mond vrye teuels

vir boosheid,

en jy span jou tong in vir bedrog.

20Jy sit en konkel teen jou broer,

jou moeder se seun beswadder jy.

21Hierdie dinge het jy gedoen,

maar Ek het stilgebly.

Jy het gedink Ek is net soos jy!

Ek gaan jou teregwys

en vir jou die saak duidelik uiteensit.

22Verstaan dit tog,

julle wat God vergeet,

anders verskeur Ek,

en daar is niemand wat kan red nie.

23Wie dankoffers bring,

eer My en wie 'n weg baan –

Ek sal hom God se verlossing

laat ervaar.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help