Hosea 11 - Die Bybel 2020-vertaling

God se liefde vir Israel

1“ Toe Israel 'n kind was,

het Ek hom al liefgehad,

en uit Egipte het Ek my seun geroep.

2 Toe daar later net so

na hulle geroep is,

het hulle van My af weggegaan.

Hulle het vir die Baäls offers geslag,

vir afgodsbeelde die rook

van offers laat opstyg.

3“ Ek self het Efraim leer loop,

Ek het hulle in my arms geneem,

maar hulle wou nie erken

dat Ek hulle versorg nie.

4“Met menslike bande

het Ek hulle nadergetrek,

met die toue van liefde.

Ek was vir hulle soos dié

wat die juk lig

wat teen hulle kake druk.

Ek het na Efraim afgebuk,

hom gevoed.

5“ Hy sal nie na Egipteland teruggaan nie,

maar Assirië, dié sal sy koning wees;

want hulle het geweier

om hulle te bekeer.

6 Die swaard sal deur sy stede gaan

en sy orakelpriesters uitroei;

dit sal hulle vernietig oor die raad

wat hulle gegee het.

7 My volk sal opgehang

word vir sy afvalligheid,

en na die juk sal hulle hom roep,

'n juk wat glad nie gelig sal word nie.

8 “Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim?

Hoe kan Ek jou oorlewer, Israel?

Hoe kan Ek jou prysgee soos Adma,

jou maak soos Sebojim?

My hart is diep ontroer in My,

die deernis brand in My.

9Ek sal nie in my brandende toorn

optree nie;

Ek sal nie omdraai en Efraim

vernietig nie;

want Ek is God, nie 'n mens nie –

die Heilige in jou midde;

Ek sal nie in woede kom nie.”

10 Hulle sal die Here volg.

Soos 'n leeu sal Hy brul;

wanneer Hy brul,

sal kinders bewend

van die see af kom.

11 Hulle sal bewend aankom

soos voëls uit Egipte,

en soos 'n duif

uit die land Assirië.

“Ek sal hulle in hulle huise laat woon,”

is die uitspraak van die Here.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help