Hosea 10 - Die Bybel 2020-vertaling

Gevolge van die vrugbaarheidsgodsdiens

1 Israel was 'n welige wingerdstok;

so ook sy vrugte wat hy gedra het.

Hoe meer vrugte hy gedra het,

hoe meer altare het hy opgerig.

Hoe beter dit met sy land gegaan het,

hoe mooier het hulle

die gedenkstene gemaak.

2 Hulle harte is vals –

nou sal hulle boet.

Die Here self gaan hulle altare afbreek,

hulle gedenkstene verwoes.

3 Ja, nou sê hulle:

“Ons het nie 'n koning nie,

omdat ons nie vir die Here

ontsag gehad het nie.

En die koning –

wat sou hy vir ons kon doen?”

4 Hulle praat maar net.

Hulle sweer vals wanneer hulle

'n ooreenkoms sluit.

Maar reg sal geskied so seker

as wat giftige plante opslaan

in die slote in die veld.

5 Oor die kalf van Bet-Awen

is die inwoners van Samaria besorg.

Ja, sy volk treur oor hom,

sy afgodspriesters kerm oor hom,

oor sy aansien,

omdat dit van hom weggeneem is.

6Hy self sal ook na Assirië

geneem word as geskenk

vir koning Jareb.

Skaamte sal Efraim oorval,

en Israel sal beskaamd staan

oor sy planne.

7Samaria sal vernietig word,

haar koning sal soos 'n houtsplinter

op die water wees.

8 Die offerhoogtes van Awen,

die sonde van Israel,

sal uitgedelg word.

Dorings en dissels

sal op hulle altare groei.

Dan sal hulle vir die berge sê,

“Bedek ons!”

en vir die heuwels,

“Val op ons!”

9“ Sedert die dae van Gibea

het jy gesondig, Israel.

Hulle het daarmee volgehou.

Sal die oorlog teen die kwaadwilliges

hulle dan nie in Gibea tref nie?

10Omdat Ek so besluit het,

gaan Ek hulle 'n les leer:

Nasies sal teen hulle saamtrek

omdat hulle verbind bly

aan hulle twee sondes.

11“ Efraim was 'n geleerde vers

wat daarvan gehou het

om koring uit te trap.

Maar Ek het oor haar mooi nek

gestreel en besluit:

Ek gaan Efraim inspan;

Juda moet ploeg;

Jakob moet vir homself die grond eg.

12 Ek het gesê,

‘Saai vir julleself geregtigheid,

oes troue liefde in oorvloed;

breek vir julle nuwe grond oop.

Dit is die aangewese tyd

om die Here te soek,

totdat Hy kom en geregtigheid

vir julle laat neerreën.’

13 Julle het goddeloosheid ingeploeg;

onreg is wat julle geoes het;

julle het die vrug van leuens geëet.

“Omdat jy op jou beleid vertrou,

op jou baie krygshelde,

14 sal oorlogsrumoer

teen jou volk opklink,

en al jou versterkte stede

sal verwoes word.

Soos Salman Bet-Arbel verwoes het

op die dag van oorlog

– ma's is saam met kinders

te pletter geslaan –

15net so gaan hy met julle maak in Bet-El,

oor julle verskriklike boosheid.

Teen dagbreek sal die koning van Israel

al heeltemal vernietig wees.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help