Psalms 64 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid.

2 Luister, o God, na my stem as ek kla;

hou my lewe veilig teen

die verskrikking van die vyand.

3Hou my weg van die kring

van kwaaddoeners,

weg van die onrus van hulle

wat onreg pleeg,

4dié wat hulle tonge

so skerp maak soos 'n swaard,

wat aanlê met hulle pyle

van bitter woorde

5om uit wegkruipplekke

op 'n onskuldige te skiet.

Onverwags skiet hulle op hom.

Hulle is nie bang nie.

6Hulle praat mekaar moed

in met bose woorde;

hulle spreek af om strikke te stel.

Hulle sê: “Wie sal dit raaksien?

7 Sal mense 'n bose opset ondersoek?

Ons is gereed;

dit is 'n fyn beplande set,

en 'n mens se binneste en hart

is onpeilbaar.”

8Maar onverwags skiet God hulle

met 'n pyl;

hulle is gewond!

9Dit bring hulle elkeen tot 'n val.

Hulle tonge getuig teen hulle.

Almal wat hulle sien, sidder.

10Dan word alle mense met vrees vervul

en maak God se dade bekend;

hulle kry insig in sy werk.

11Regverdiges sal hulle

in die Here verheug

en by Hom skuil.

Almal wie se harte opreg is,

sal in Hom roem.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help