1 Kronieke 17 - Die Bybel 2020-vertaling

Belofte van God aan Dawid(2 Sam 7:1-17)

1 Toe Dawid in sy huis gevestig was, het hy vir die profeet Natan gesê: “Kyk, ek woon in 'n huis van sederhout, maar die verbondsark van die Here staan onder tentdoeke.”

2Daarop het Natan vir Dawid gesê: “Alles wat u in gedagte het, doen dit, want God is met u.”

3Maar in daardie nag het dit gebeur – die woord van God het tot Natan gekom:

4“ Gaan sê vir Dawid, my dienskneg, ‘So sê die Here: “Dit is nie jy wat vir my 'n huis sal bou om in te woon nie.

5 Ek het, vanaf die dag dat Ek Israel laat optrek het uit Egipte tot vandag toe, mos nie in 'n huis gewoon nie. Ek was van die een tent na die ander, van die een woonplek na die ander.

6Het Ek ooit, oral waar Ek in die hele Israel rondgetrek het, met een van die rigters van Israel wat Ek aangestel het om my volk op te pas, die saak aangeroer en gesê, ‘Waarom het julle nie vir My 'n huis van sederhout gebou nie?’

7 Daarom, so moet jy sê vir my dienskneg, vir Dawid, “ ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Ek is die Een wat jou uit die weiveld agter die kleinvee weggeneem het om 'n leier te wees oor my volk Israel.

8Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en Ek het al jou vyande voor jou uitgeroei. Ek sal vir jou 'n naam maak soos die naam van die grotes wat op aarde is.

9 Ek sal vir my volk Israel, 'n plek aanwys; Ek sal hom plant, en hy sal op sy plek woon en nie weer beef van angs nie. Skurke sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie,

10soos van die tyd af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Ek sal al jou vyande verneder. Ek maak aan jou bekend dat die Here 'n huis vir jou sal oprig.

11 Wanneer jou tyd aangebreek het om na jou voorvaders te gaan, sal Ek jou nakomeling ná jou, een van jou eie seuns, na vore laat tree, en Ek sal sy koningskap vestig.

12Hy is die een wat vir My 'n huis sal bou, en Ek sal sy troon vir altyd laat vasstaan.

13Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees. My troue liefde sal Ek nie aan hom onttrek soos wat Ek dit aan jou voorganger onttrek het nie.

14 Ek sal hom vir altyd in my huis en koninkryk aanstel, en sy troon sal altyd bestendig wees.” ’ ”

15Ooreenkomstig al hierdie woorde en hierdie hele onthulling, presies so het Natan die boodskap aan Dawid oorgedra.

Dawid se gebed(2 Sam 7:18-29)

16Koning Dawid het toe ingegaan en voor die Here gaan sit. Hy het gesê:

“Wie is ek, Here God;

en wie is my huis

dat U my tot hier gebring het?

17En asof dit nie genoeg is

in u oë nie, o God,

het U ook oor die huis

van u dienskneg gepraat,

tot in die verre toekoms;

ja, U het my vorentoe gesien

as 'n dinastie, Here God.

18Maar wat kan Dawid verder

vir U sê oor die eerbewys

aan u dienskneg?

U ken self u dienskneg.

19 Here, ter wille van u dienskneg,

en volgens u wil

het U hierdie hele groot saak

uitgevoer,

om so al die grootse dade

bekend te maak.

20 Here, daar is niemand

soos U nie.

Daar is geen God behalwe U nie,

volgens alles wat ons

met ons eie ore gehoor het.

21 En wie is soos u volk Israel –

die enigste nasie op aarde

van wie dit geld dat God gegaan het

om hulle vir Homself vry te koop

as 'n volk,

en om vir U naam te maak

deur grootse en wonderlike dade,

om nasies te verdryf voor u volk

wat U uit Egipte vrygekoop het?

22 U het u volk Israel vir U

as 'n volk bestem vir altyd,

en U, Here, het hulle God geword.

23 Here, doen dan nou

die woord gestand

wat U gespreek het

oor u dienskneg en sy huis,

laat dit altyd vasstaan.

Doen wat U gesê het,

24 sodat dit sal vasstaan,

en u Naam vir ewig groot sal wees,

en daar gesê sal word,

‘die Here, Heerser oor alle magte,

die God van Israel, is God vir Israel,’

en sodat die huis

van u dienskneg Dawid

bestendig sal wees voor U.

25Want U, my God, het aan

u dienskneg geopenbaar

dat U vir hom 'n huis sal bou.

Daarom het u dienskneg

dit moontlik gevind

om voor U te bid.

26En nou, Here, U is God;

U het hierdie goeie woord

oor u dienaar uitgespreek.

27U het nou besluit om die huis

van u dienskneg te seën

sodat dit vir altyd voor U sal wees.

Omdat U, Here, dit geseën het,

is dit vir altyd geseën.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help