Hooglied 1 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Die lied van alle liedere. Van Salomo.

Sy:

2 Laat hy my met die soene

van sy mond soen;

ja, jou liefkosings is beter as wyn.

3 Die geur van jou reukolie

is heerlik,

reukolie wat uitgegiet word,

is jou naam –

daarom raak die meisies

verlief op jou!

4 Neem my saam met jou!

Kom ons hardloop!

Die koning het my

na sy kamer geneem.

Koor:

Ons wil vreugde put uit jou,

ons verheug oor jou!

Ons wil jou liefkosings

meer aanprys as wyn.

Hulle is met reg verlief op jou!

Sy:

5 Ek is donker,

meisies van Jerusalem,

en pragtig –

soos die tente van Kedar,

soos Salomo se tentdoeke.

6 Moenie na my staar

omdat ek donker is,

omdat die son

my bruin gebrand het nie.

Die seuns van my ma

was kwaad vir my:

Hulle het my die wingerde laat oppas;

my eie wingerd kon ek nie oppas nie.

7Laat weet my tog,

geliefde van my hart,

waar laat jy jou kudde wei,

waar laat jy hulle

in die middag rus?

Waarom moet ek gesluierd gaan

tussen jou vriende se kuddes?

Hy:

8Weet jy dit nie,

mooiste onder die vroue?

Volg die spore van die kleinvee

en laat jou lammers

langs die herders se tente wei.

9 Soos 'n merrie by die farao

se strydwaens

is jy vir my, my liefling.

10 Hoe bekoorlik is jou wange

met die stringe krale,

jou nek met die halssnoere!

11Kom ons maak vir jou

goue kettinkies, gestip met silwer.

Sy:

12Terwyl die koning by sy feestafel is,

versprei my nardus sy geur.

13 'n Sakkie mirre

wat tussen my borste rus,

is my liefste vir my.

14'n Bossie hennabloeisels

in die wingerde van En-Gedi,

is my liefste vir my.

Hy:

15 O, hoe mooi is jy, my liefling,

hoe mooi is jy!

Jou oë is duiwe.

Sy:

16O, hoe mooi is jy, my liefste,

en aantreklik!

Ons bed is groen loof.

17Die balke van ons huis is seders,

ons dakbalke sipresse.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help