Psalms 17 - Die Bybel 2020-vertaling

1'n Gebed. Van Dawid.

Luister tog na 'n regverdige saak, Here,

gee tog aandag aan my klaagroep,

hoor my gebed wat kom

oor lippe sonder bedrog.

2Van U af moet die oordeel

oor my kom;

mag u oë regverdig onderskei.

3U het my hart getoets,

my snags ondersoek,

U het my deur die smeltkroes laat gaan,

maar U het niks gevind nie.

Ek het my voorgeneem:

My mond sal nie oortree nie.

4Wat die optrede van mense betref,

hou ek by die woord van u lippe.

Ek het die paaie van geweldenaars

vermy.

5My voete het u paaie

nougeset gevolg;

my voetstappe het nie gewankel nie.

6Ek roep U aan,

want U verhoor my, o God;

draai u oor na my,

luister na my woorde.

7Wys my die wonders

van u troue liefde,

Verlosser van hulle

wat teen teenstanders

skuiling soek by u regterhand.

8Beskerm my soos die appel van u oog;

verberg my in die skadu van u vlerke

9vir goddeloses wat my

geweld wil aandoen,

vir my vyande wat my lewe

van alle kante bedreig.

10Hulle ongevoelige harte is geslote;

met hulle monde

praat hulle aanmatigend.

11Hulle het op my spoor gebly,

nou het hulle my omsingel;

hulle is daarop ingestel om my

op die grond te laat lê.

12Die goddelose is soos 'n leeu

wat daarop uit is om te verskeur,

soos 'n jong leeu

wat in skuilplekke gereed sit.

13Staan op, Here, loop op hom af,

laat hom die knie buig.

Bevry my met u swaard

van goddeloses,

14met u hand, Here,

van hulle wat doodmaak.

Mense wat doodmaak,

se lewens is van korte duur;

dit is hulle lot in die lewe.

Met u verborge straf vul U hulle mae;

hulle kinders word versadig daarvan

en wat oorbly, laat hulle agter

vir hulle jong kinders.

15Wat my betref, in geregtigheid

sal ek u teenwoordigheid ervaar;

wanneer ek wakker word,

sal ek van u verskyning versadig wees.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help