Jeremia 12 - Die Bybel 2020-vertaling

1 U het die reg aan u kant, Here,

as ek met U 'n regstryd sou voer;

tog wil ek oor regsake met U praat:

Waarom is die pad van goddeloses voorspoedig,

waarom leef almal wat verraderlik

optree, rustig?

2U het hulle geplant;

ook het hulle wortel geskiet,

hulle het uitgespruit,

selfs vrugte gedra.

U is naby hulle monde,

maar ver van hulle binneste af.

3 Maar U, Here, U ken my;

U sien my en U toets of my hart by U is.

Vat hulle weg soos kleinvee

wat vir slag bestem is;

sonder hulle af

vir die dag van slagting.

4 Hoe lank sal die land bly verdor,

die plante van die hele veld verdroog?

Vanweë die boosheid van hulle

wat daarin woon,

kwyn die diere en voëls weg.

Hulle sê immers:

“Hy sal ons einde nie sien nie.”

5“As jy saam met mense

te voet hardloop,

en hulle maak jou moeg,

hoe sal jy dan met perde meeding?

In 'n veilige gebied

is jy vol selfvertroue;

maar hoe sal jy vaar in die

trots van die Jordaan?

6Want ook jou stamgenote, jou eie familie,

ook hulle het verraderlik teen jou opgetree;

ook hulle roep hardop agter jou aan.

Moet hulle nie glo

wanneer hulle vriendelik

met jou praat nie.”

God se treurlied oor Juda

7 “Ek het my huis verlaat;

Ek het my eiendom prysgegee;

Ek het my sielsbeminde oorgegee

in die greep van haar vyande.

8My eiendom het vir My geword

soos 'n leeu in die bos;

sy het haar stem teen My verhef;

daarom het Ek 'n weersin

in haar gekry.

9My persoonlike eiendom

is 'n boerplek van hiënas,

omring deur roofvoëls!

Gaan maak al die wilde diere bymekaar,

laat hulle kom om te verslind!

10 Talle herders het my wingerd verniel,

hulle het my stuk grond vertrap.

Hulle het my kosbare stuk grond

'n verlate woestyn gemaak.

11Dit is 'n woesteny gemaak;

verlate treur dit voor My.

Die hele land lê verlate,

omdat daar niemand is

wat hulle daaraan steur nie.

12Oor al die kaal hoogtes

in die woestyn kom verwoesters.”

Ja, die swaard van die Here

verteer die land van hoek tot kant.

Daar is geen vrede vir enige vlees nie.

13 Hulle het koring gesaai,

maar dorings geoes;

hulle het hulleself uitgeput,

maar niks daarby gebaat nie.

Staan beskaamd oor julle opbrengs,

vanweë die brandende toorn van die Here!

14 So sê die Here: “Wat al die slegte buurvolke betref, hulle wat skade aanrig aan die eiendom wat Ek aan my volk Israel as erfenis gegee het, kyk, Ek gaan hulle uit hulle grondgebied uitruk, en die huis van Juda sal Ek uit hulle midde uitruk.

15 Maar nadat Ek hulle uitgeruk het, sal Ek My weer oor hulle ontferm en hulle laat terugkeer, elkeen na sy eiendom, en elkeen na sy grond.

16 As die ander volke die paaie van my volk goed leer ken, deur 'n eed af te lê in my Naam met die woorde, ‘So waar as die Here leef’ – soos hulle my volk geleer het om by Baäl te sweer – sal hulle in die midde van my volk gevestig word.

17 Maar as hulle nie luister nie, sal Ek daardie nasie heeltemal uitruk en tot niet maak,” is die uitspraak van die Here.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help