Amos 2 - Die Bybel 2020-vertaling

1 So sê die Here:

“Oor drie oortredings van Moab,

ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie;

omdat hy die beendere

van die koning van Edom

tot kalk verbrand het.

2 Ek sal vuur slinger teen Moab;

dit sal die vestings van Kerijot verteer;

te midde van krygsrumoer

sal Moab sterf,

te midde van strydkrete,

te midde van die geluid

van •ramshorings.

3Ek sal die heerser met geweld

uit hulle midde verwyder

en al sy •hoë amptenare

saam met hom ombring.”

Dit het die Here gesê.

4 So sê die Here:

“Oor drie oortredings van Juda,

ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie;

omdat hulle die onderrig

van die Here verwerp,

en sy vaste voorskrifte

nie nagekom het nie.

Hulle vals gode het hulle laat dwaal,

dié waaragter hulle voorouers

aangeloop het.

5Ek sal vuur slinger teen Juda;

dit sal die vestings van Jerusalem

verteer.”

6 So sê die Here:

“Oor drie oortredings van Israel,

ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie;

omdat hulle regverdiges

vir geld verkoop

en behoeftiges

vir 'n paar sandale.

7 Hulle trap op die stof van die aarde,

op die koppe van armes;

en stoot weerloses uit die pad.

'n Man en sy vader gaan na

dieselfde meisie,

sodat hulle my heilige Naam

ontheilig.

8 Op klere wat as pand geneem is,

strek hulle hulle uit

langs elke altaar;

en wyn wat as boetes geneem is,

drink hulle in die huis

van hulle God.

9 Ek is die Een wat die Amoriete,

so lank soos sederbome

en so sterk soos eikebome,

uitgeroei het voor hulle uit.

Ek het hulle uitgeroei –

hulle vrug bo

en hulle wortels onder.

10 Ek is die Een wat julle

uit Egipteland laat optrek

en julle veertig jaar lank

deur die woestyn laat gaan het

om die land van die Amoriete

in besit te neem.

11Ek het van julle seuns

as profete laat optree

en van julle jong manne

as •nasireërs.

Is dit nie so nie, Israeliete?”

is die uitspraak van die Here.

12“ Maar julle het die nasireërs

wyn laat drink;

aan die profete het julle opdrag gegee,

‘Julle mag nie profeteer nie!’

13Kyk, Ek bring julle tot stilstand

waar julle is;

net soos 'n wa oorvol van gesnyde

graan tot stilstand kom.

14 'n Toevlugsoord vir die vinnige

het verlore gegaan;

die sterke sal nie sy krag

kan inspan nie

en die held nie sy eie lewe

kan red nie.

15 Die boogskutter sal nie staande

bly nie;

die vlugvoetige sal nie ontkom nie,

en die perderuiter nie sy eie lewe

kan red nie.

16Die dapperste onder die helde

sal op daardie dag kaal wegvlug,”

is die uitspraak van die Here.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help