1'n Gebed. Van Dawid.
Here, draai u oor,
antwoord my,
want ek is magteloos en behoeftig.
2Beskerm my lewe,
want ek is 'n getroue volgeling.
Verlos u dienskneg wat op U vertrou;
U is my God.
3Wees my genadig, my Heer,
want na U roep ek die hele dag lank.
4Maak die hart van u dienskneg bly,
want na U, my Heer, hunker ek.
5U, my Heer, is immers goed
en vergewensgesind,
en oorvloedig in troue liefde
teenoor almal wat na U roep.
6 Here, hoor tog my gebed
en gee tog aandag aan my smeekgebede.
7In die tyd van my nood roep ek na U,
want U antwoord my.
8Daar is niemand soos U
onder die gode nie, my Heer,
en niks soos u werke nie.
9 Al die nasies wat U gemaak het,
sal kom en voor U, my Heer,
in aanbidding buig;
hulle sal u Naam eer.
10Want groot is U
en U doen wonders;
U alleen is God.
11Leer my u pad, Here;
ek wil in u waarheid leef.
Gee dat ek heelhartig vir u Naam
ontsag sal hê.
12My Heer, my God, ek wil U prys
met my hele hart;
ek wil u Naam vir altyd eer,
13want u troue liefde teenoor my
is groot:
U het my lewe weggeruk
uit die •doderyk daar onder.
14O God, vermeteles
het teen my opgestaan;
'n klomp geweldenaars
soek my lewe
en hou U nie voor oë nie.
15Maar U, my Heer,
U is 'n barmhartige en genadige God,
geduldig, oorvloedig
in troue liefde en waarheid.
16Draai na my en wees my genadig;
gee u krag aan u dienskneg,
en verlos die seun van u diensmeisie.
17Gee my 'n teken van goedheid
sodat hulle wat my haat,
dit kan sien en beskaamd staan.
U, Here, het my immers gehelp
en getroos.
Who We AreWhat We EelieveWhat We Do
2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.