Jesaja 40 - Die Bybel 2020-vertaling

Profesie oor Jerusalem se herstel

1 “Troos, troos my volk!”

sê julle God.

2“Praat mooi met Jerusalem!

Roep haar toe dat haar

gedwonge arbeid voltooi is,

dat haar skuld afbetaal is!

Ja, sy het uit die hand van die Here

'n dubbele straf ontvang

vir al haar sondes. ”

3 'n Stem roep:

“Maak in die woestyn

die pad van die Here gereed;

maak in die Araba

'n grootpad vir ons God gelyk.

4 Elke dal moet opgevul word,

en elke berg en heuwel

moet wegsak.

Hobbelrige plekke

moet gelyke grond word,

en rotsagtige terrein

moet 'n vallei word.

5Die heerlikheid van die Here

sal geopenbaar word;

alle mense sal dit gelyktydig sien,

want die mond van die Here

het gespreek.”

6 'n Stem sê toe: “Roep uit!”

En ek vra: “Wat moet ek uitroep?

Alle mense is immers gras;

en al hulle trou is soos 'n veldblom.

7 Gras verdor, 'n blom verwelk

wanneer die asem van die Here

daarop blaas.

Waarlik, die volk is maar net gras!”

8 “ Ja, gras verdor,

'n blom verwelk,

maar die woord van ons God

hou stand vir altyd. ”

9 Klim op 'n hoë berg, Sion,

boodskapper van vreugde!

Verhef jou stem met krag, Jerusalem,

boodskapper van vreugde!

Verhef dit, moenie bang wees nie!

Sê vir die dorpe van Juda:

“Hier is julle God!”

10 Kyk, my Heer, die Here –

met krag kom Hy,

en sy arm oefen vir Hom

heerskappy uit.

Kyk, sy vergoeding is by Hom,

sy beloning is voor Hom.

11 Soos 'n herder

laat Hy sy kudde wei;

in sy arms maak Hy

lammers bymekaar;

teen sy bors dra Hy hulle;

die lammerooie lei Hy.

12 Wie kan die waters in die holte

van sy hand afmeet,

die hemel met sy handspan peil,

met 'n derde van 'n efa

die stof van die aarde opvang,

met 'n handskaal die berge weeg,

die heuwels met 'n weegskaal?

13 Wie kan die Gees

van die Here peil,

wie is die mens wat aan Hom

sy raadsbesluit bekend maak?

14 Met wie beraadslaag Hy,

en wie hou Hom op hoogte,

wie onderrig Hom oor die verloop

van 'n regsaak?

Wie dra aan Hom kennis oor,

en die pad van wyse beskikking,

wie maak dit aan Hom bekend?

15 Kyk, nasies is soos 'n druppel

uit 'n leersak;

hulle word beskou as net

'n lagie stof op 'n weegskaal.

Kyk, eilande weeg Hy

asof dit fyn stof is.

16Die Libanonbos se hout

is nie genoeg

om 'n vuur te maak,

en sy wilde diere nie genoeg

vir 'n •brandoffer nie.

17 Al die nasies is soos niks

voor Hom;

deur Hom word hulle beskou as

minder as iets niksseggends,

minder as 'n nietigheid.

18 Met wie wil julle God vergelyk?

Watter afbeelding wil julle

langs Hom stel?

19'n Afgodsbeeld wat 'n vakman

gegiet het,

wat 'n smid met goud

oorgetrek het,

'n smid met silwer beslaan het?

20As 'n wydingsgeskenk

kies mens ebbehout,

hout wat nie verrot nie.

'n Vaardige vakman

soek hy vir hom

om 'n afgodsbeeld te maak

wat nie omkantel nie.

21 Weet julle nie?

Hoor julle nie?

Is dit nie van die begin af

aan julle bekend gemaak nie?

Het julle nie begrip van die aarde

se fondamente nie?

22Dit is Hy wat troon

bo die ronde skyf van die aarde;

die bewoners daarvan

is soos koringkrieke.

Dit is Hy wat die hemel oopspan

soos 'n doek,

dit oopsprei soos 'n tent,

sodat mense daar kan woon.

23 Dit is Hy wat maghebbers

tot niks maak;

die regeerders van die aarde

maak Hy 'n nietigheid.

24 Skaars is hulle geplant,

skaars is hulle gesaai,

skaars skiet hulle steggies

wortel in die grond,

of Hy het reeds op hulle geblaas,

en hulle verdor;

dan lig 'n stormwind hulle op

soos strooi.

25“Met wie wil julle My vergelyk,

sodat Ek net soos hulle sal wees?”

vra die Heilige.

26 Kyk boontoe en sien!

Wie het hierdie dinge geskep?

Dit is Hy wat die hemelse leër

een vir een uitlei,

hulle almal op die naam roep.

Deur die toedoen van Hom

wat groot vermoëns

en geweldige krag het,

ontbreek nie een nie.

27 Waarom sê jy dan, Jakob,

en beweer jy, Israel:

“My lewenspad is verborge

vir die Here,

my reg gaan by my God verby”?

28Weet jy dit nie?

Het jy dit nie gehoor nie?

'n Ewige God is die Here,

Skepper van die eindes

van die aarde.

Hy word nie moeg nie,

Hy raak nie afgemat nie –

ondeurgrondelik is sy insig.

29Dit is Hy wat vermoeides krag gee,

wat lewenskrag vermeerder

vir dié wat geen vermoëns het nie.

30Jong seuns word moeg

en raak afgemat;

jong manne struikel en val.

31 Maar wie op die Here wag,

herwin hulle krag;

hulle kry nuwe vere soos arende.

Hulle hardloop,

maar raak nie afgemat nie,

hulle loop,

maar word nie moeg nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help