Jesaja 54 - Die Bybel 2020-vertaling

1 “Jubel, onvrugbare vrou,

wat nie geboorte geskenk het nie!

Breek uit in jubelkrete,

roep uit van blydskap,

jy wat nie geboortepyne gehad het nie!

Want die kinders van die eensame vrou

sal meer wees as die kinders

van die getroude vrou,”

het die Here gesê.

2 Maak die plek vir jou tent groter,

en die tentdoeke van jou wonings –

laat dit oopgespan word;

moet dit nie beperk nie!

Maak jou tenttoue lank

en jou tentpenne stewig!

3 Want na regs en na links sal jy uitbrei;

jou nageslag sal nasies in besit neem,

verwoeste dorpe sal hulle bewoon.

4Moenie bang wees nie,

want jy sal nie beskaamd staan nie;

moenie verneder voel nie,

want jy sal nie verleë wees nie.

Ja, die skande van jou jeug

sal jy vergeet,

en aan die gespot oor jou weduweeskap

sal jy nie weer dink nie.

5 Want Hy wat met jou trou,

is jou Maker;

die Here, Heerser oor alle magte

is sy Naam.

Hy wat jou loskoop,

is die Heilige van Israel.

God van die hele wêreld

word Hy genoem.

6 Ja, as 'n verstote, sielsongelukkige vrou,

het die Here jou geroep.

“Die vrou van 'n mens se jeug,

sal sy verwerp word?”

vra jou God.

7“Vir 'n kort oomblik het Ek jou verlaat,

maar met groot ontferming sal Ek jou versamel.

8 In 'n opwelling van grimmigheid

het Ek my gesig 'n oomblik lank

vir jou verberg;

maar in ewige troue liefde

ontferm Ek My oor jou,”

het jou losser, die Here, gesê.

9“Soos in die dae van Noag

is hierdie tyd vir My:

Ek het 'n eed afgelê

dat die water van Noag nie weer

die aarde sal oorstroom nie.

Net so het Ek 'n eed afgelê

om nie weer toornig te wees

op jou en jou te dreig nie.

10 Ja, die berge mag wyk

en die heuwels wankel,

maar my troue liefde

sal nie van jou wyk nie,

en my vredesverbond

sal nie wankel nie, ”

het jou ontfermer, die Here, gesê.

11“ Magtelose, stormgeteisterde stad,

wat nie getroos is nie –

kyk, Ek gaan jou bouklip in blink klei lê,

jou fondament met •lasuurstene bou.

12Ek sal jou borswerings

van •chalcedoon maak,

en jou poorte sal van •berilsteen wees.

Jou hele grensmuur sal van kosbare edelstene wees.

13 Al jou kinders sal leerlinge

van die Here wees,

en groot sal die voorspoed

van jou kinders wees.

14Deur geregtigheid

sal jy jouself stewig vestig.

“Besef dat jy ver is van verdrukking –

ja, jy hoef nie te vrees nie;

en ver van verskrikking –

ja, dit sal nie naby jou kom nie.

15Kyk, as iemand jou wel aanval –

dit kom nie van My af nie.

Wie ook al jou aanval,

sal oor jou tot 'n val kom.

16Kyk, Ek self het die smid geskep

wat die gloeiende kole aanblaas

en wapens lewer

vir 'n bepaalde taak.

Ek self het die verwoester geskep

om verwoesting aan te rig.

17 Geen wapen wat teen jou gemaak word,

sal suksesvol wees nie.

Elke tong wat teen jou getuig in 'n regsgeding,

sal jy skuldig verklaar.

“Dit is die erfdeel van die Here se diensknegte;

dit is hulle geregtigheid van my kant,”

is die uitspraak van die Here.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help