Jesaja 56 - Die Bybel 2020-vertaling

Geregtigheid en ongeregtigheid in Jerusalem

1So sê die Here:

“Handhaaf die reg

en tree billik op,

want my verlossing is naby,

dit kom;

en my geregtigheid is op hande,

dit word geopenbaar.

2Gelukkig is die mens wat dit doen,

die mensekind wat daarby hou,

hy wat die Sabbat onderhou

deur dit nie te ontheilig nie,

wat sy hand daarvan weerhou

om enigiets verkeerds te doen.

3 Die nakomeling van 'n vreemde

wat hom aan die Here

verbind het, mag nie sê,

‘Die Here sal my beslis

van sy volk afskei’ nie.

'n Eunug moet nie sê,

‘Kyk, ek is 'n droë boom’ nie.

4Want so sê Ek, die Here,

vir die eunugs, vir dié wat wel

my Sabbatte onderhou,

wat dit kies waarin Ek vreugde vind,

en wat vashou aan my verbond:

5 Ek sal vir hulle iets gee

wat beter is as seuns en dogters:

In my •tempel en teen my mure

sal Ek hulle gedenk

met 'n teken en 'n naam.

'n Ewige naam sal Ek aan hulle gee

wat nie uitgewis sal word nie.

6“En die nakomelinge van 'n vreemde

wat hulle aan die Here

verbind het om Hom te dien,

om die Naam van die Here lief te hê

en om sy dienaars te word

– almal wat die Sabbat

onderhou deur dit

nie te ontheilig nie,

en wat vashou aan my verbond –

7 hulle sal Ek na my heilige berg bring;

en Ek sal hulle vreugde laat ervaar

in my huis van gebed.

Hulle •brandoffers en •maaltydoffers

sal aanvaarbaar wees op my altaar.

Ja, my huis sal genoem word

'n huis van gebed vir al die volke. ”

8 Die uitspraak van my Heer, die Here,

Hy wat die verstrooides

van Israel byeenbring, is:

“Ek sal by Israel nog meer byeenbring

as wat reeds by hom byeengebring is.”

9Al julle wilde diere van die veld,

kom om te verslind!

Ja, kom, al julle wild in die bos!

10 Israel se wagte is almal blind,

hulle neem niks waar nie.

Hulle is almal stom honde,

hulle kan nie blaf nie;

hulle lê daar en maak geluide,

hou daarvan om te sluimer.

11 Die honde is vraatsugtig,

hulle ken nie versadiging nie.

Hulle is die herders!

Hulle kan nie verstaan nie.

Hulle is almal gerig op hulle eie pad,

elkeen op sy eie voordeel,

sonder uitsondering.

12 “Kom!” sê een,

“ek sal wyn gaan haal;

kom ons word dronk van sterk drank!

Die dag van môre

sal net soos hierdie een wees –

'n buitengewone groot dag.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help