Jesaja 55 - Die Bybel 2020-vertaling

1“ Kom, almal wat dors is,

kom na die water!

En wie geen geld het nie,

kom koop en eet!

Kom koop sonder geld,

sonder koste, wyn en melk!

2Waarom weeg julle silwer af

vir wat nie brood is nie,

en bestee julle moeitevolle arbeid

aan wat nie versadig nie?

As julle aandagtig na My luister,

sal julle eet wat goed is,

sal julle julle aan ryk kos verlustig.

3 Maak julle ore oop en kom na My toe;

luister, sodat julle kan leef!

Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit,

getrou aan die bestendige liefde vir Dawid.

4 Kyk, 'n getuie vir die volke

het Ek hom gemaak,

'n leier, iemand wat bevel voer oor volke.

5 Kyk, jy sal 'n nasie roep

wat jy nie ken nie;

en 'n nasie wat jou nie ken nie,

sal na jou toe hardloop,

ter wille van die Here, jou God,

ter wille van die Heilige van Israel,

omdat Hy jou verheerlik het.”

6 Soek die Here terwyl Hy Hom laat vind,

roep Hom aan terwyl Hy naby is.

7 Die goddelose moet van sy pad afsien,

en die boosdoener van sy planne.

Hy moet na die Here terugkeer,

sodat Hy hom genadig kan wees,

en na sy God,

want Hy vergeef oorvloediglik.

8 “Ja, my planne is nie julle planne nie,

en julle paaie is nie my paaie nie,”

is die uitspraak van die Here.

9“ Want soos die hemel hoër is as die aarde,

so is my paaie hoër as julle paaie,

en my planne as julle planne.

10Ja, soos reën en sneeu

uit die hemel afkom

en nie daarheen terugkeer nie,

maar die aarde deurdrenk

en plante laat voortbring,

dit laat uitspruit,

en so saad gee vir die saaier

en voedsel vir dié wat eet,

11 net so sal my woord wees

wat uit my mond uitgaan:

Dit sal nie vrugteloos na My terugkeer nie,

maar doen wat Ek wil hê,

en die doel bereik waarvoor

Ek dit gestuur het.

12“ Ja, met vreugde

sal julle wegtrek,

en in vrede gelei word.

Die berge en heuwels

sal voor julle in jubelkrete uitbreek,

en al die bome van die veld

sal hande klap.

13 In die plek van doringstruike

sal sipresse groei;

in die plek van distels

sal mirtebome opkom.

Dit sal vir die Here

tot roem wees;

as 'n ewige teken,

sal dit nie afgekap word nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help