Spreuke 23 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Wanneer jy gaan sit

om saam met 'n heerser te eet,

wees besonder bedag

op wie voor jou is.

2Sit 'n mes teen jou keel

as jy 'n groot eetlus het.

3Moenie sy lekkernye begeer nie,

want dit is misleidende kos.

4 Moet jou nie afsloof

om ryk te word nie,

jy behoort van beter te weet –

hou op daarmee!

5Sou jy jou oë net daarop rig?

Dit is reeds weg!

Want dit kry beslis vlerke;

soos 'n arend vlieg dit weg in die lug.

6 Moenie die brood

van 'n gierigaard eet nie,

en moenie sy lekkernye begeer nie.

7Want in sy binneste

maak hy somme;

dit is hoe hy is.

“Eet en drink!” sê hy vir jou,

maar sy hart is nie by jou nie.

8Jou krieseltjie wat jy geëet het –

jy gaan dit opgooi,

en jou aangename woorde

het jy dan verspil.

9 Moenie direk met 'n dwaas

praat nie,

want jou verstandige woorde

sal hy met minagting bejeën.

10 Moenie ou grense verskuif nie,

en in die landerye van vaderloses

moet jy nie kom nie.

11Want hulle losser is sterk;

Hy sal hulle regstryd teen jou voer.

12 Rig jou hart op vermaning,

en jou oor op woorde van wysheid.

13 Moenie straf van 'n jong seun

weerhou nie;

as jy hom met 'n lat slaan,

sal hy nie doodgaan nie.

14Jy slaan hom wel met 'n lat,

maar jy red sy lewe van die •doderyk.

15 My seun, as jou hart wys is,

is ook my hart verheug.

16My binneste sal jubel

wanneer jou lippe praat wat reg is.

17 Jou hart moet nie opgewonde

raak oor sondaars nie,

maar wees die hele tyd opgewonde

oor ontsag vir die Here.

18Daar is beslis 'n toekoms,

en jou hoop sal nie verydel word nie.

19 As jy luister, my seun,

sal jy wys word

en sal jy jou hart op die regte pad lei.

20Moet jou nie met die wynvlieë

ophou nie,

met dié wat hulle aan vleis

ooreet nie.

21Want 'n dronklap en 'n vraat

sal verarm,

en lomerigheid laat mens vodde dra.

22 Luister na jou vader,

hy wat jou verwek het;

en moet jou moeder nie minag

wanneer sy oud geword het nie.

23Verkry waarheid,

en moet dit nie verkwansel nie,

ook wysheid, vermaning en insig.

24Die vader van 'n regverdige

jubel uitbundig;

wie 'n wyse seun verwek,

sal oor hom verheug wees.

25Mag jou vader en moeder

blydskap ervaar;

mag sy wat jou in die wêreld

gebring het, jubel.

26 Gee my jou hart, my seun,

en laat jou oë vreugde vind in my paaie.

27want 'n prostituut

is 'n diep vangkuil,

en 'n vreemde vrou is 'n nou put.

28Ook sy lê 'n man voor

soos 'n rower;

sy maak die ontroues

onder mense meer.

29 By wie is daar smart?

By wie is daar ellende?

By wie is daar 'n gekyf?

By wie is daar klagtes?

By wie is daar onnodige wonde?

By wie is daar bloedbelope oë?

30Dit is by hulle wat agterbly

by die wyn,

by hulle wat ingaan

om gemengde wyn te bly proe.

31Moenie na wyn kyk

wanneer dit rooi skyn,

sy glans in die beker gee nie –

dit vloei te glad af!

32Agterna pik dit soos 'n slang

en spuit gif soos 'n kobra.

33Dan sien jou oë vreemde goed,

en jou hart praat verdorwe dinge.

34Jy sal wees soos een wat lê

op die oop see,

soos een wat lê op die top

van 'n skip se takelwerk.

35Jy sal dink:

Hulle het my geslaan,

maar ek het geen pyn gevoel nie;

hulle het my afgeransel,

maar ek het niks gemerk nie.

Wanneer word ek wakker?

Ek wil dit weer gaan soek.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help