Jesaja 9 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Die volk wat in duisternis ronddwaal,

het 'n groot lig gesien;

hulle wat in 'n stikdonker land woon –

oor hulle het 'n lig geskyn.

2 U het die nasie vermeerder,

U het hulle vreugde groot gemaak.

Hulle ervaar vreugde voor U,

soos die vreugde in die oestyd,

soos dié wat juig

wanneer hulle buit verdeel.

3 Want die las van hulle juk

en die hout oor hulle skouers,

die stok van hulle slawedrywer,

het U verpletter

soos op die dag van Midian.

4Ja, elke stewel

wat stamp met 'n gedreun,

en elke kledingstuk

wat in bloed gerol is,

is bestem vir verbranding,

is kos vir die vuur.

5 Want 'n kind is vir ons gebore,

'n seun is aan ons gegee.

Die heerskappy is op sy skouer.

Hy word genoem:

Wonderbare Raadgewer,

Magtige God, Ewige Vader,

Vredevors.

6 Vir die uitbreiding

van heerskappy

en vir vrede sonder einde,

sal hy op die troon van Dawid

en oor sy koninkryk wees,

om dit te vestig en te ondersteun

deur reg en geregtigheid,

van nou af en vir altyd.

Die ywer van die Here,

Heerser oor alle magte,

sal dit doen.

7 My Heer het 'n woord gestuur

teen Jakob,

en dit het in Israel geval.

8 Die hele volk het dit ervaar,

Efraim en die inwoners

van Samaria, wat hoogmoedig

en vol selfvertroue sê:

9“Bakstene het geval,

maar met gekapte klip

sal ons herbou.

Wildevyebome is afgekap,

met sederbome

sal ons dit vervang.”

10 Die Here het die vyande

van Resin se mag

teen hom verhoog

en sy vyande aangehits –

11 Aram uit die ooste

en die Filistyne uit die weste.

Hulle het Israel gulsig verslind.

Ondanks dit alles het sy toorn

nie bedaar nie,

en bly sy hand steeds uitgestrek.

12 Maar die volk

het nie teruggekeer na Hom

wat hulle geslaan het nie,

en die Here, Heerser oor alle magte,

nie geraadpleeg nie.

13 Die Here het van Israel

kop en stert, palmtak en biesie,

afgekap op een dag.

14Oudstes en gerespekteerdes,

hulle is die kop,

en profete wat leuens verkondig,

hulle is die stert.

15 Hulle wat hierdie volk moes lei,

het misleiers geword,

en hulle wat gelei moes word,

het verward geraak.

16 Daarom, oor hulle jong manne

verheug my Heer Hom nie,

en oor hulle vaderloses

en weduwees

ontferm Hy Hom nie.

Hulle is immers almal

van God vervreem,

en is kwaaddoeners;

elke mond verkondig dwaasheid.

Ondanks dit alles

het sy toorn nie bedaar nie,

en bly sy hand steeds uitgestrek.

17 Ja, goddeloosheid

brand soos vuur,

dit verteer doringstruike en onkruid;

dit steek die struikgewas in die bos

aan die brand,

en dit dwarrel weg

as rook wat opstyg.

18 Deur die gramskap

van die Here, Heerser oor alle magte,

is die land in duisternis gehul.

Die volk het soos kos

vir die vuur geword;

hulle het nie deernis

met mekaar nie.

19 Hulle verslind aan die

regterkant, maar bly honger;

hulle vreet aan die linkerkant,

maar word nie versadig nie.

Elkeen van hulle bly vreet

aan die vleis van sy voorarm:

20 Manasse aan Efraim

en Efraim aan Manasse,

en hulle is saam teen Juda.

Ondanks dit alles het die Here

se toorn nie bedaar nie,

en bly sy hand steeds uitgestrek.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help