Psalms 27 - Die Bybel 2020-vertaling

1Van Dawid.

Die Here is my lig en my redding –

vir wie sal ek vrees?

Die Here is die toevlug van my lewe –

vir wie sal ek bang wees?

2As kwaaddoeners op my toesak

om my lewendig te verslind,

ja, my teenstanders en my vyande,

struikel hulle self en val.

3Al sou 'n leër teen my laer opslaan,

sal my hart nie bang wees nie;

al sou 'n oorlog teen my uitbreek,

sal ek nogtans bly vertrou.

4Een ding het ek van die Here gevra

en dit sal ek bly nastreef:

om al die dae van my lewe

in die huis van die Here te woon,

om die lieflikhede van die Here

te aanskou en daaroor

na te dink in sy •tempel.

5Ja, Hy steek my weg

in sy skuiling op 'n dag van onheil;

Hy verberg my in die beskutting

van sy tent;

Hy tel my hoog op 'n rots.

6Daarom is my kop hoog

bo my vyande rondom my.

Ek wil met uitroepe van vreugde

offers bring in sy tent,

ek wil sing,

ek wil die Here besing.

7Luister tog, Here, na my stem

wanneer ek roep,

wees my genadig en antwoord my!

8My hart eggo u woorde:

“Julle moet my teenwoordigheid

opsoek!”

U teenwoordigheid, Here,

soek ek op.

9Moet u gesig

nie vir my verberg nie,

moet u dienskneg

nie in toorn wegwys nie.

U was my Helper,

moet my nie verstoot of verlaat nie,

God wat my red.

10Selfs al verlaat my vader en moeder my,

die Here sal my aanneem.

11 Here, leer my u pad,

lei my op 'n gelyk pad,

vanweë my vyande.

12Moet my nie oorgee aan die begeerte

van my teenstanders nie;

want vals getuies

het teen my opgestaan,

en hulle blaas geweld aan.

13As ek darem nie geglo het

dat ek die goedheid

van die Here sal beleef

in die land van die lewendes nie!

14Wag op die Here!

Wees sterk en hou moed,

ja, wag op die Here!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help