Jesaja 26 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Op daardie dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda:

“Ons het 'n sterk stad;

God se redding is die stadsmure

en verdedigingswal.

2 Maak oop die poorte,

sodat 'n regverdige nasie kan ingaan,

hulle wat getrou bly!

3 'n Standvastige gesindheid

sal U in volkome vrede bewaar,

omdat daar op U vertrou word.

4Vertrou te alle tye op die Here,

want die Here, die Here

is 'n ewige rots.

5 Ja, dié wat hoog woon,

die ontoeganklike stad,

laat Hy tuimel.

Hy haal haar neer,

Hy haal haar tot die grond toe neer –

Hy gooi haar neer tot in die stof.

6Voete vertrap haar,

die voete van magteloses,

die treë van armes.”

7Die paaie van regverdiges

is gelyk;

reguit is die weë van regverdiges

wat U vir hulle skoonmaak.

8 Selfs op die pad van u oordele,

Here, het ons op U gewag.

U Naam, u gevierde Naam,

was ons hartsverlange.

9Met my hele wese

smag ek na U in die nag,

ja, my gees in my binneste

soek na U.

Want wanneer u oordele

die aarde tref,

leer die bewoners

van die wêreld wat reg is.

10 Wanneer genade aan goddeloses

bewys word,

leer hulle nie wat reg is nie.

In 'n land waar opregtheid heers,

pleeg hulle onreg;

die verhewenheid van die Here

sien hulle nie raak nie.

11 Here, dat u hand opgehef is,

merk hulle nie op nie.

Die ywer vir u volk –

laat hulle dit opmerk

en beskaamd staan.

Laat ook die vuur,

bestem vir u vyande,

hulle verteer.

12 Here, U beskik vir ons vrede;

ja, ook alles wat ons vermag het,

het U vir ons bewerk.

13 Here, ons God,

ander here as U

het oor ons regeer.

Alleen deur u toedoen

bely ons u Naam.

14 Dooies kan nie leef nie,

skimme kan nie opstaan nie;

daarom het U rekenskap geëis,

hulle uitgedelg.

Alle herinnering aan hulle

het U uitgewis.

15U het die nasie vermeerder, Here,

U het die nasie vermeerder,

U het Uself verheerlik.

U het alle grense van die land

uitgebrei.

16 Here, in nood het hulle

U opgesoek;

hulle was benoud vanweë

die fluistering dat u tugtiging

vir hulle bedoel is.

17 Soos 'n swanger vrou

wat op die punt is

om geboorte te gee,

ineenkrimp en uitroep

in haar geboortepyne,

so was ons vanweë

u teenwoordigheid, Here.

18Ons was swanger,

het ineengekrimp,

maar dit was asof ons aan wind

geboorte geskenk het.

Redding kon ons nie vir die land

bewerk nie,

die bewoners van die wêreld

het nie geval nie.

19 Jou dooies sal leef, Israel;

hulle lyke sal opstaan.

Word wakker en jubel,

julle wat in die stof woon!

Want u dou is 'n hemelse dou,

en die aarde sal aan skimme

geboorte gee.

20 Gaan, my volk,

gaan in jou binnekamers in,

en sluit jou deure agter jou toe!

Kruip 'n kort rukkie weg,

totdat die vervloeking

verbygegaan het!

21 Want kyk, die Here

gaan uit sy woonplek kom

om van die bewoners van die aarde

rekenskap te eis oor sondeskuld.

Die grond sal die bloed daarop onthul,

en nie langer hulle wat daarop

gedood is, bedek nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help