Jesaja 34 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Kom nader, nasies, om te hoor,

volke, gee aandag!

Die aarde en alles daarop moet hoor,

die wêreld en alles

wat daaruit voortkom.

2Want die grimmigheid van die Here

is teen al die nasies gerig,

sy woede teen al hulle leërs.

Hy sal hulle met die banvloek tref,

hulle vir 'n slagting oorlewer.

3Hulle gesneuweldes

sal weggegooi word,

en hulle lyke –

die stank daarvan sal opstyg.

Die berge sal deurweek wees

van hulle bloed.

4 Al die hemelliggame

sal wegsmelt,

en soos 'n boekrol

sal die hemel opgerol word.

Al die hemelliggame

sal verskrompel soos die blare

van 'n wingerdstok verskrompel,

soos verskrompelde vrugte

aan 'n vyeboom.

5“Ja, my swaard het genoeg

te drinke gehad

in die hemelruim.

Kyk, op Edom gaan dit neerkom,

op die volk vir wie my

banvloek gaan tref

om die oordeel te voltrek. ”

6Die Here het 'n swaard –

vol bloed is dit,

dit drup van vet,

van die bloed van lammers

en bokramme,

van die niervet van ramme;

want daar is 'n offerfees

vir die Here in Bosra,

'n groot slagting in die land

van Edom.

7Buffels sak neer saam met hulle,

bulle saam met die sterkes.

Hulle grond sal hom vol drink

aan bloed,

hulle stof sal versadig wees van vet.

8 Ja, daar is 'n dag van wraak

vir die Here,

'n jaar van vergelding

in die regstryd van Sion.

9 Edom se strome

sal in pik verander,

haar stof in swael –

haar gebied sal brandende pik word.

10 Nag en dag

sal dit nie geblus word nie,

vir altyd styg haar rook omhoog.

Van geslag tot geslag

sal sy in puin lê,

vir ewig en altyd

sal niemand deur haar trek nie.

11 Bontkraaie en kortooruile

sal haar in besit neem;

grasuile en swartkraaie

sal in haar woon.

Hy lê die maatlyn van verlatenheid

oor haar aan,

die weegstene van leegheid.

12 Haar hoëlui –

daar sal niks wees wat hulle

'n koninkryk kan noem nie;

al haar •hoë amptenare

sal niks wees nie.

13 In haar vestings

sal dorings opkom –

brandnetels en sydissels

in haar versterkte stad.

Dit sal 'n lêplek vir jakkalse wees,

'n blyplek vir steenuile.

14Woestyndiere sal hiënas

daar raakloop,

•veldgode sal na mekaar roep.

Ja, Lilit sal daar draal

en vir haar 'n rusplek vind.

15Daar sal 'n uil nesmaak

en eiers lê, daarop broei,

en dit in haar skaduwee uitbroei.

Ja, daar sal jakkalsvoëls saamkom,

elkeen by haar maat.

16 Gaan dit na in die boekrol

van die Here, en lees:

Nie een van hulle ontbreek nie,

nie een sal haar maat mis nie;

want die mond van die Here

het dit beveel,

en sy Gees,

Hy maak hulle bymekaar.

17Hy is die Een wat vir hulle

die lot gewerp het,

en sy hand het die land

met die meetsnoer

aan hulle toegedeel.

Vir altyd sal hulle dit in besit neem,

en van geslag tot geslag

sal hulle daarin woon.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help