Esegiël 25 - Die Bybel 2020-vertaling

Profesie teen Ammon

1 Die woord van die Here het tot my gekom:

2“Mensekind, draai jou gesig na die Ammoniete en profeteer teen hulle.

3Jy moet vir die Ammoniete sê, ‘Hoor die woord van my Heer, die Here: So sê my Heer, die Here:

“Omdat jy, Ammon,

‘Aha!’ gesê het

vir my heiligdom

toe dit ontheilig is,

vir die land Israel

toe dit verwoes is,

vir die huis van Juda

toe hulle in ballingskap gegaan het,

4daarom, kyk, Ek gaan jou

aan mense uit die ooste

as eiendom gee.

Hulle sal hulle kampe in jou oprig,

in jou hulle woonplekke vestig.

Dit is hulle wat jou vrugte sal eet;

dit is hulle wat jou melk sal drink.

5Ek sal Rabba 'n weiveld

vir kamele maak,

by die Ammoniete 'n lêplek

vir kleinvee inrig.

Julle sal besef dat Ek die Here is.”

6“ ‘Ja, so sê my Heer, die Here: “Omdat jy jou hande geklap en jou voete gestamp het, en innerlike vreugde gevind het in jou veragting vir die land Israel,

7daarom, kyk,

“Ek strek my hand teen jou uit;

Ek gee jou as 'n buit aan die nasies;

Ek roei jou uit onder die volke;

Ek laat jou verdwyn uit die lande;

Ek delg jou uit.

Jy sal besef dat Ek die Here is.” ’ ”

Profesie teen Moab

8 “ ‘So sê my Heer, die Here: “Omdat Moab en Seïr sê, ‘Kyk, soos al die nasies, so is die huis van Juda ook maar’,

9daarom, kyk, Ek gaan die berghange van Moab blootstel, van die stede af, al sy stede tot die laaste een toe, die sieraad van die land, Bet-Jesimot, Baäl-Meon, ja, tot by Kirjatajim.

10Aan mense uit die ooste sal Ek die land as eiendom gee saam met die Ammoniete, sodat daar onder die nasies nie meer aan die Ammoniete gedink sal word nie.

11So sal Ek oor Moab oordele voltrek. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.” ’ ”

Profesie teen Edom

12 “ ‘So sê my Heer, die Here: “Omdat Edom met wraaksug opgetree het teen die huis van Juda, hulle volledig skuldig gemaak het deur op hulle wraak te neem,

13daarom,” so sê my Heer, die Here, “strek Ek my hand uit teen Edom. Ek sal mens en dier daaruit uitroei. Ek sal die land 'n puinhoop maak van Teman af tot by Dedan, en deur die swaard sal hulle val.

14Ek sal my wraak op Edom uitoefen deur die hand van my volk Israel. Hulle sal teen Edom optree ooreenkomstig my toorn en my woede. Edom sal my wraak leer ken.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’ ”

Profesie teen die Filistyne

15 “ ‘So sê my Heer, die Here: “Omdat die Filistyne met wraak opgetree het, hulle met sielsveragting gewreek het, met die doel om te verwoes, op grond van 'n ewigdurende vyandskap,

16daarom,” so sê my Heer, die Here, “kyk, Ek strek my hand uit teen die Filistyne; Ek gaan hierdie mense van Kreta uitroei. Ek gaan dié wat oorgebly het uit die kusvlakte vernietig.

17Ek gaan teen hulle optree met verskriklike wraak, hulle met woede straf. Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek my wraak oor hulle bring.” ’ ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help