Jesaja 35 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Laat die woestyn

en die dor land hulle verheug,

laat die Araba juig

en blom soos 'n tulp.

2Laat dit welig blom en juig,

ja, met 'n gejuig en 'n gejubel.

Die heerlikheid van die Libanon

word daaraan gegee,

die glansrykheid van Karmel

en Saron.

Hulle sal die heerlikheid

van die Here,

die glansrykheid

van ons God, sien.

3 Maak die slap hande sterk,

versterk die wankelende knieë.

4 Sê vir dié wat angstig is:

“Hou moed,

moenie bang wees nie!

Kyk, hier is julle God;

die wraak kom,

die vergelding deur julle God.

Hy is die Een wat sal kom

en julle verlos.”

5 Dan sal die oë van blindes

oopgaan,

en die ore van dowes

sal oopgaan.

6 Dan sal 'n verlamde

spring soos 'n wildsbok,

en die tong van 'n stomme

sal jubel;

want in die woestyn

sal water uitbars,

strome water in die Araba.

7 Die uitgedorde grond

sal 'n vleiland word,

'n dorsland vol waterbronne.

Op die lêplek van jakkalse,

waar hulle gaan lê het,

sal daar gras met kalmoesriet

en papirus wees.

8 Daar sal 'n gebaande weg,

'n pad wees;

Die heilige pad

sal dit genoem word.

Onreines sal nie daarop

verbygaan nie;

maar dit sal vir dié wees

wat op die pad hou.

Sotte sal nie daar ronddwaal nie.

9 Daar sal geen leeus wees nie,

en roofdiere sal nie daar kom nie;

hulle sal nie daar

aangetref word nie.

Dié wat losgekoop is,

sal daarlangs gaan;

10 dié wat deur die Here

vrygekoop is, sal terugkeer,

hulle sal in Sion aankom

met jubelkrete –

met ewige vreugde

sal hulle gekroon wees.

Blydskap en vreugde

sal hulle oorweldig,

en verdriet en 'n gesug

sal wegvlug.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help