Jesaja 1 - Die Bybel 2020-vertaling

Visioen van Jesaja

1 Die visioen van Jesaja, seun van Amos, wat hy gesien het aangaande Juda en Jerusalem in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda.

2Luister, hemel,

en gee aandag, aarde,

want die Here praat:

“Kinders het Ek grootgemaak en opgevoed,

maar hulle het teen My

in verset gekom.

3 'n Bees ken sy eienaar

en 'n donkie die krip van sy besitter.

Israel het egter nie kennis nie,

my volk toon geen insig nie.”

4 Wee 'n sondige nasie,

'n volk swaar belaai

met sondeskuld,

'n geslag kwaaddoeners,

kinders wat hulle wangedra!

Hulle het die Here verlaat,

die Heilige van Israel verag,

Hom die rug toegekeer.

5 Waarom wil julle

nog geslaan word,

en hou julle vol

met julle onversetlikheid?

Elke kop is siek,

elke hart is swak.

6 Van die voetsool tot die kop

is daar nie 'n gesonde plek nie,

net hale en kneusplekke

en oop wonde.

Dit is nie gedreineer nie,

of verbind of versorg met olie nie.

7 Julle land is 'n woesteny;

julle stede is met vuur verbrand.

Julle landerye – voor julle oë

verteer vreemdes dit;

ja, dit is 'n woesteny,

asof vreemdes dit verwoes het.

8 Die dogter van Sion het oorgebly

soos 'n takskerm in 'n wingerd,

soos 'n oornagskerm

in 'n lappie komkommers,

soos 'n beleërde stad.

9 As die Here, Heerser oor alle magte,

nie vir ons 'n klein oorblyfsel

agtergelaat het nie –

soos Sodom sou ons geword het,

aan Gomorra sou ons

gelyk gewees het.

10 Luister na die woord van die Here,

•gesagvoerders van Sodom!

Gee aandag aan die wet van ons God,

mense van Gomorra!

11“Wat baat julle magdom

slagoffers My?”

vra die Here.

“Ek het genoeg gehad

van die •brandoffers van ramme

en die vet van gevoerde diere.

Die bloed van bulle,

lammers en bokramme

staan My nie aan nie.

12Wanneer julle kom

om voor My te verskyn –

wie eis dit van julle

om my voorhowe te vertrap?

13Hou op om waardelose

•graanoffers aan te dra!

Reukwerk – afstootlik is dit vir My.

Nuwemaansfeeste en Sabbatte,

die saamroep van byeenkomste –

Ek kan nie onreg én gewyde rusdae

verdra nie.

14Julle nuwemane en vaste feestye

haat Ek met my hele wese;

dit is vir My 'n las,

Ek is moeg daarvoor om dit te dra.

15 As julle julle hande uitstrek,

sluit Ek my oë vir julle.

Selfs as julle baie bid,

luister Ek nie.

Julle hande is vol bloed.

16Was julle! Reinig julle!

Verwyder julle bose dade voor my oë!

Hou op om kwaad te doen!

17 Leer om goed te doen!

Bevorder die reg!

Lê die onderdrukker aan bande!

Handhaaf die reg van die vaderloses!

Verdedig die weduwees se regsake!

18 “Kom tog,

laat ons die saak uitpraat!”

sê die Here.

“Al is julle sondes rooi soos karmosyn,

dit sal wit word soos sneeu;

al is dit rooi soos skarlaken,

soos wol sal dit word.

19 As julle gewillig is en luister –

die goeie van die land

sal julle geniet.

20Maar as julle weier en opstandig is –

deur die swaard

sal julle verteer word.”

Ja, die mond van die Here

het gespreek.

21 Helaas, sy het 'n prostituut geword,

die getroue stad!

Sy was gevul met die reg;

geregtigheid het in haar oornag,

maar nou net moordenaars.

22 Jou silwer het metaalskuim geword,

jou koringbier is met water verdun.

23 Jou •hoë amptenare is koppig

en span met diewe saam.

Hulle almal is lief vir omkoopgeld

en jaag belonings na.

Vaderloses se reg handhaaf hulle nie,

en weduwees se regsake

dien nie voor hulle nie.

24Daarom is dit die uitspraak

van die Here, die Heer,

Heerser oor alle magte,

die Magtige van Israel:

“Wee hulle!

Ek gaan voldoening ervaar

oor my teenstanders;

Ek gaan My wreek op my vyande.

25 Ek sal my hand teen jou draai,

jou metaalskuim uitsmelt

soos met potas,

al jou onsuiwerhede verwyder.

26 Ek sal jou regters tot inkeer

bring soos dit voorheen was,

en ook jou raadgewers

soos dit aan die begin was.

Daarna sal jy genoem word:

Stad van Geregtigheid,

Getroue Vesting.”

27Sion sal net deur reg

vrygekoop word,

en dié van haar wat terugkeer,

deur geregtigheid.

28 Sowel oortreders as sondaars

sal verpletter word;

wie die Here verlaat,

sal omkom.

29Ja, hulle sal beskaamd staan

oor die terebintbome

wat julle so begeer.

Julle sal verleë wees oor die tuine

waaroor julle so gaande is.

30Ja, julle sal wees soos 'n terebintboom

waarvan die blare verwelk,

soos 'n tuin wat geen water kry nie.

31Die sterke sal vlasvesel word,

en sy dade 'n vonk.

Beide sal saam verbrand,

terwyl niemand dit kan blus nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help