Psalms 56 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. Op “Die duif van die veraf •terebinte”. Van Dawid. 'n Miktaam. Toe die Filistyne hom in Gat gevang het.

2 Wees my genadig, o God,

want mense treiter my;

die hele dag teister

veglustige mense my.

3My teenstanders treiter my

die hele dag,

ja, baie veg teen my uit die hoogte.

4Die dag wanneer ek bang is,

vertrou ek op U.

5Op God – ek loof sy woord –

op God vertrou ek.

Ek sal nie bang wees nie;

wat kan vlees en bloed

aan my doen?

6Die hele dag verdraai hulle

my woorde;

teen my is al hulle kwaadwillige

planne gerig.

7Hulle val my gedurig aan;

hulle lê en wag.

Hulle hou my spore dop

terwyl hulle my lewe soek.

8Sal hulle, ondanks die onreg, vrykom?

Werp mense neer in toorn, o God!

9U het self my lotgevalle opgeteken.

Hou tog my trane in u leersak.

Staan dit nie in u •boekrol nie?

10Dan sal my vyande terugdeins

op die dag wanneer ek roep.

Dit weet ek: God is vir my.

11Op God – ek loof sy woord –

op die Here – ek loof sy woord –

12ja, op God vertrou ek.

Ek is nie bang nie,

wat kan 'n mens aan my doen?

13Op my, o God, rus die geloftes aan U.

Ek sal dit nakom met •dankoffers aan U,

14want U het my lewe

uit die dood weggeruk.

Het U dan nie my voete

van struikeling bewaar,

sodat ek voor God kan leef

in die lig van die lewe nie?

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help