Job 4 - Die Bybel 2020-vertaling

Elifas se eerste betoog

1 Elifas uit Teman het hierop gereageer en gesê:

2“Kan mens 'n woord na jou kant toe waag?

Sal jy ontstemd raak?

Maar woorde terughou –

wie kan dit doen?

3 Kyk, jy het baie mense tereggewys;

slap hande het jy sterk gemaak.

4Jou woorde het die een

wat struikel, regop gehelp;

wankelrige knieë

het jy stewig gemaak.

5Maar noudat dit jou oorkom,

is jy ontstemd;

noudat dit jou tref,

is jy ontsteld.

6 Is jou ontsag vir God dan nie dit

waarop jy staatmaak nie?

Is jou hoop nie gevestig op jou

onberispelike optrede nie?

7 Dink tog daaraan:

Wie het, terwyl hy onskuldig is, omgekom?

Waar is opregtes al uitgewis?

8 Wat ek waargeneem het, is:

Wie onreg inploeg en teenspoed saai,

oes dit ook.

9 Deur die asem van God

kom hulle om,

deur die wind uit sy neus

gaan hulle tot niet.

10 Daar is die gebrul van 'n leeu,

die stem van 'n maanhaar,

maar die tande van jong leeus

word gebreek.

11By gebrek aan prooi

kom die leeumannetjie om,

die welpies van die leeuwyfie

raak verstrooi.

12“Na my toe het 'n woord

in die geheim gekom;

my oor het die fluistering daarvan

opgevang.

13 Te midde van verontrustende

gedagtes in naggesigte,

terwyl 'n diep slaap mense oorval,

14het vrees en bewing my beetgepak

en my hele liggaam laat sidder.

15'n Gees het langs my verbygegaan,

dit het die hare op my lyf laat rys.

16 Hy het gaan staan,

maar ek kon nie sy voorkoms

herken nie;

die gedaante was reg voor my oë.

'n Fluisterende stem

is wat ek gehoor het,

17 ‘Kan 'n mens regverdiger

as God wees,

of kan 'n man reiner

as sy Maker wees?

18 Kyk, as Hy selfs in sy dienaars

nie sy vertroue stel nie,

en sy boodskappers blameer

vir dwaling,

19 hoeveel te meer geld dit dan

hulle wat in huise van klei woon,

met fondamente in die stof?

Vinniger as 'n mot

word hulle platgetrap.

20Tussen dagbreek en sononder

word hulle verpletter;

sonder dat dit opgemerk word,

kom hulle vir ewig om.

21Word hulle tenttoue

nie losgemaak nie?

Hulle sterf – sonder wysheid.’

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help