1 Ag, hoe het die goud sy glans verloor,
die suiwer goud verdof;
die heilige edelstene lê rondgestrooi
op al die straathoeke.
ב BET2 Die kosbare kinders van Sion,
hulle was hulle gewig in fyngoud werd;
ag, nou word hulle gereken as kleipotte,
maaksels van 'n pottebakker se hande!
ג GIMEL3 Selfs jakkalse laat drink,
hulle soog hulle kleintjies;
die dogter van my volk het wreed geword,
soos volstruise in die woestyn.
ד DALET4 Van dors kleef die tong van die suigeling
aan sy verhemelte vas;
kinders bedel brood,
maar niemand breek dit vir hulle nie.
ה HE5 Hulle wat lekkernye geëet het,
vergaan in die strate;
hulle wat met skarlaken grootgeword het,
omhels nou ashope.
ו WAW6 Die skuld van die dogter van my volk
was erger as die sondes van Sodom –
Sodom, wat in 'n oogwink vernietig is,
sonder menslike toedoen.
ז ZAJIN7 Die vorste van Sion
was helderder as sneeu
en witter as melk;
hulle liggame was rooier as koraal,
hulle voorkoms soos •lasuursteen.
ח GET8Hulle is nou swarter as roet
en word nie op straat herken nie;
hulle vel verskrompel aan hulle gebeente,
dit is uitgedor soos hout.
ט TET9 Hulle wat deur die swaard getref word,
is beter daaraan toe as hulle
wat deur hongersnood getref word,
ja, hulle wat wegkwyn,
wat ly vanweë die gebrek
aan opbrengs van die landerye.
י JOD10 Die hande van liefdevolle vroue
het hulle kinders gekook;
hulle het hulle voedsel geword
toe die dogter van Sion
ineengestort het.
כ KAF11 Die Here het sy woede laat uitwoed,
sy brandende toorn uitgestort;
Hy het 'n vuur in Sion aangesteek
wat haar fondamente vernietig het.
ל LAMED12 Die konings van die aarde,
ook al die bewoners van die wêreld,
kon nie glo dat teenstanders en vyande
die poorte van Jerusalem sou binnedring nie.
מ MEM13 Dit was die gevolg
van die sonde van haar profete
en die skuld van haar priesters,
hulle wat die bloed van regverdiges
daar vergiet het.
נ NUN14 Blind het hulle deur die strate gestrompel,
met bloed besoedel;
niemand kon aan hulle klere raak nie.
ס SAMEK15 “Gaan weg, •onreines!”
het die mense vir hulle geskreeu.
“Gaan weg! Gaan weg!
Moenie aanraak nie!”
Toe hulle op die vlug geslaan het,
ja, toe hulle onder die nasies
rondgeswerf het,
het die mense gesê:
“Hulle mag nie meer hier bly nie!”
פ PE16 Die Here self het hulle verstrooi,
Hy sien nie meer na hulle om nie.
Priesters word nie gerespekteer nie;
vir die oudstes is daar geen genade nie.
ע AJIN17 Met oë wat dof raak,
het ons bly uitsien na hulp –
maar tevergeefs;
in ons wagtorings het ons
bly uitkyk vir 'n nasie –
wat nie kan red nie.
צ TSADE18 Ons kon nie 'n tree gee
sonder dat hulle op ons
jag maak nie;
ons kon nie op straat verskyn nie.
Ons einde was naby,
ons dae was getel;
ja, ons einde het aangebreek.
ק KOF19 Ons agtervolgers was vinniger
as arende in die lug;
oor die berge het hulle op ons hakke gebly,
in die woestyn het hulle ons voorgelê.
ר RESJ20 Ons lewensasem,
die gesalfde van die Here,
is in hulle vangkuile gevang –
die een in wie se skadu
ons gedink het
ons onder die nasies sou leef!
שׁ SJIN21 Wees maar vrolik en bly,
dogter van Edom
wat woon in die land Us;
ook aan jou sal die beker gegee word,
jy sal dronk word en jouself ontbloot.
ת TAW22Jou skuld is vereffen, dogter van Sion,
Hy sal jou nie weer in ballingskap laat gaan nie.
Vir jou skuld sal Hy jou
laat betaal, dogter van Edom,
Hy gaan jou sonde blootlê.
Who We AreWhat We EelieveWhat We Do
2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.