Miga 2 - Die Bybel 2020-vertaling

Sosiale onreg en vals profete

1 Wee hulle wat onreg bedink,

wat kwaad beplan

op hulle beddens!

Teen dagbreek voer hulle dit uit,

want die mag is in hulle hande.

2 Hulle begeer stukke grond,

en neem dit af,

huise, en neem dit in besit.

Hulle bedreig 'n man en sy gesin,

'n mens en sy erfdeel.

3 Daarom, so sê die Here:

“Kyk, Ek beplan onheil

teen hierdie geslag,

'n onheil waaruit julle

nie julle nekke sal kan trek nie.

Julle sal nie regop kan loop nie,

omdat dit 'n tyd van onheil

sal wees.”

4 Op daardie dag sal iemand

'n spotlied oor julle laat opklink,

'n klaaglied sing:

“Dit is verby met ons!” sal hy sê.

“Ons is heeltemal vernietig!

Hy vervreem die eiendom

van my mense!

Hoe ontneem Hy my dit!

As vergelding verdeel Hy ons grond.”

5 Daarom sal niemand

julle verteenwoordig

in die geloofsgemeenskap

van die Here

wanneer die land deur loting

verdeel word nie.

6 “Julle moet nie driftig

profeteer nie,”

sê hulle driftig.

“'n Mens mag nie hierdie dinge

driftig profeteer nie.

Beledigings sal in elk geval

niks bereik nie.

7Kan dit gesê word,

huis van Jakob ?

Is die Here ongeduldig,

of is dit sy dade hierdie?”

“Doen my woorde nie iemand

goed wat die regte pad loop nie?

8Maar julle het vir my volk

'n vyand geword wat teenoor

vredeliewende mense

stelling inneem:

Julle pluk die mantel af

van niksvermoedende

verbygangers,

mense wat uit 'n oorlog terugkeer.

9Julle verdryf die vroue

van my volk uit huise

waaraan hulle verknog is;

van hulle kinders ontneem julle

vir altyd die waardigheid

wat Ek gee.

10 Maak gereed en gaan weg,

want dit is nie 'n tuiste hierdie nie!

Omdat dit •onrein is,

sal dit vernietig word –

'n verskriklike vernietiging.”

11 As iemand maar net

voortdurend onsin

en die leuen versprei,

“Ek sal vir jou driftig profeteer

oor wyn en sterk drank”,

dan word hy die driftige profeet

van hierdie mense!

12“ Ek sal jou beslis bymekaarmaak,

Jakob, almal van julle;

Ek sal beslis die oorblyfsel

van Israel byeenbring.

Ek sal hulle versamel

soos kleinvee in 'n kraal,

soos 'n trop diere in 'n weiveld;

daar sal 'n rumoer van mense wees.

13“ Die een wat deurbreek,

gaan voor hulle uit.

Hulle breek deur

en gaan deur 'n poort;

hulle gaan daardeur uit!

Hulle Koning gaan voor hulle uit,

die Here is op die voorpunt!”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help