Prediker 1 - Die Bybel 2020-vertaling

Opskrif

1Die woorde van Prediker, seun van Dawid, koning in Jerusalem.

Sinloosheid

2 Sinloos, volslae sinloos,

sê Prediker,

sinloos, volslae sinloos;

alles is sinloos!

3 Watter voordeel is daar vir 'n mens

met al sy inspanning

waarmee hy hom afsloof

onder die son?

4Geslagte kom en geslagte gaan,

en die aarde bestaan vir altyd.

5Die son kom op

en die son gaan onder,

en haas hom na sy plek

waar hy opkom.

6 Die wind waai na die suide

en draai na die noorde.

Dit bly draai en draai –

op sy kringloop keer die wind

telkens terug.

7Al die strome vloei na die see,

maar die see word nie vol nie.

Na die plek waarheen die strome vloei,

daarheen vloei hulle altyd weer.

8Alles bly aan die worstel –

'n mens kan dit onder woorde

nie bring nie;

oë raak nie versadig van sien

en ore raak nie vol van hoor nie.

9Wat ook al gebeur het,

dit is wat gaan gebeur;

en wat ook al gedoen is,

dit is wat gedoen gaan word.

Daar is niks nuuts onder die son nie.

10As daar iets is waarvan iemand sê,

“Kyk hier, dit is nuut!” –

dit het reeds gebeur in die tye

wat voor ons daar was.

11 Vroeëre gebeure word nie onthou nie,

en ook nie die latere

wat nog sal gebeur nie –

daar is aan hulle

net so min herinnering

as aan dit wat sal gebeur

teen die einde.

Bespiegeling deur die koning

12Ek, Prediker, was koning

oor Israel in Jerusalem.

13Ek het my daaraan toegewy

om alles wat onder die hemel

gedoen word,

met wysheid te ondersoek

en na te vors.

Dit is 'n nuttelose taak wat God

aan mense opgedra het

om hulle mee te belas.

14 Ek het gekyk na alles

wat gedoen word onder die son:

Kyk, dit alles is sinloos,

'n gejaag na wind.

15Wat krom is,

kan nie reguit word nie;

wat ontbreek,

kan nie getel word nie.

16Ek het vir myself gesê:

Wat my betref,

kyk, ek het wysheid opgebou

en vermeerder, meer as

enigiemand wat voor my

oor Jerusalem geheers het.

My hart het baie insig gekry

in wysheid en kennis.

17Toe het ek my daaraan toegewy

om wysheid en kennis,

domheid en dwaasheid te verstaan.

Ek het besef dat selfs dit

die najaag van wind is.

18 Want met baie wysheid

kom baie verdriet,

en wie kennis vermeerder,

vermeerder lyding.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help