Spreuke 20 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Die wyn is 'n spotter,

en sterk drank 'n lawaaimaker.

Elkeen wat daarvan slinger,

is nie wys nie.

2 'n Gebrul soos dié van 'n jong leeu,

so is die angs

wat 'n koning veroorsaak;

wie hom kwaad maak,

stel sy lewe in gevaar.

3 Dit is 'n eer vir 'n mens

om van 'n woordewisseling

weg te bly,

maar elke sot laat 'n stryery losbreek.

4 In die winter ploeg 'n luiaard nie;

soek hy iets in die oestyd,

is daar niks.

5 Diep water is die planne

in die hart van 'n man,

en 'n skerpsinnige mens

sal daaruit put.

6 Baie mense verklaar hulle lojaliteit,

maar 'n werklik betroubare man –

wie sal hom vind?

7 Iemand wat onberispelik leef,

'n regverdige –

gelukkig is sy kinders

wat ná hom kom!

8 'n Koning wat op die regterstoel sit,

sif met sy oë al wat sleg is, uit.

9 Wie kan sê:

“Ek het my hart skoon gehou,

ek is rein van my sonde?”

10 Twee soorte gewigte,

twee soorte efas –

dit is vir die Here afstootlik.

11 Reeds aan sy dade

laat 'n jong man hom ken,

of wat hy doen, suiwer en reg is.

12 'n Oor wat luister

en 'n oog wat sien –

die Here het ook albei gemaak.

13 Moenie lief wees vir slaap nie,

anders verarm jy;

as jy jou oë oophou,

sal jy jou versadig eet aan brood.

14“Nikswerd! Nikswerd!”

sê die koper;

maar as hy wegstap, dan spog hy.

15 Daar is goud en 'n oorvloed

aan koraal,

maar 'n kosbare versiering

is lippe met kennis.

16 Neem sy kleed,

want hy het borg gestaan

vir 'n vreemde,

vir 'n vreemde vrou –

neem 'n pand van hom!

17 Aangenaam is vir 'n mens

die brood verkry deur bedrog,

maar daarna is sy mond vol gruis.

18Planne kom deur beraadslaging

tot stand.

Voer oorlog met goeie leierskap!

19Wie as 'n skindertong rondgaan,

openbaar geheime;

moet dus nie betrokke wees

by iemand wat sy lippe oopsper nie.

20Wie sy vader en moeder vloek –

sy lamp word uitgedoof

in diepe duisternis.

21'n Erfenis aanvanklik

oorhaastig verkry,

sal uiteindelik nie geseënd wees nie.

22 Moenie sê,

“Ek wil die kwaad vergeld” nie;

wag op die Here, sodat Hy jou help.

23Twee soorte gewigte

is vir die Here afstootlik,

en 'n vals weegskaal is nie goed nie.

24Die Here bepaal 'n man se treë;

en 'n mens, hoe sal hy dan

sy eie pad verstaan?

25Dit is 'n valstrik vir 'n mens

as hy onnadenkend sê, “Heilig!”

om dan eers ná die geloftes

daaroor na te dink.

26'n Wyse koning sif goddeloses uit

en laat die dorswiel oor hulle loop.

27 Die asem van die mens

is die Here se lamp;

daarmee deursoek Hy al die kamers

van die binneste.

28Troue liefde en waarheid

beveilig 'n koning;

ja, met troue liefde stut hy sy troon.

29Die roem van jong manne

is hulle krag,

en die luister van oumense

is grys hare.

30Snye aan 'n kneuswond

suiwer die kwaad uit,

en slae die kamers van die binneste.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help