Deuteronomium 32 - Die Bybel 2020-vertaling

1“ Luister hemele, ek wil praat,

en aarde, jy moet die woorde

van my mond hoor.

2Mag my onderrig neerstuif soos reën,

my woorde drup soos dou,

soos deurdringende reën

op groen gras,

soos reënbuie op plante.

3Ja, die Naam van die Here roep ek uit,

Erken die grootheid van ons God,

4 die Rots!

Volmaak is sy werk,

ja, al sy paaie is 'n maatstaf.

'n Betroubare God, sonder onreg,

regverdig en onkreukbaar is Hy.

5“ Sy volk het hulle teenoor Hom wangedra;

hulle is nie sy kinders nie,

maar 'n skandvlek,

'n vals en verworde geslag.

6Is dit hoe julle teenoor die Here optree,

dwase en onverstandige volk?

Is Hy nie jou Vader

wat jou geskep het nie?

Hy is die Een wat jou gemaak het,

wat jou gevestig het.

7 Onthou die tye lank gelede,

dink aan die jare

van vorige geslagte;

vra jou vader, hy sal jou inlig;

jou ou mense,

hulle sal dit vir jou sê:

8 Toe die Allerhoogste

vir die nasies hulle erfenis

gegee het,

toe Hy mensekinders

van mekaar geskei het,

het Hy die grense van volke vasgelê

volgens die getal

van die kinders van Israel;

9want die Here se deel is sy volk,

Jakob is sy afgemete erfenis.

10Hy het sy volk

in 'n woestynland gevind,

in 'n onherbergsame streek

met die wildernis se gehuil.

Hy het hom omring, hom versorg,

hom beskerm soos die appel

van sy oog.

11Soos 'n arend sy neskuiken aanspoor,

bo sy jong kuiken fladder,

sy vlerke oopsprei en hom vang,

hom op sy penvere dra,

12het net die Here hom gelei;

daar was geen vreemde god

by hom nie.

13Die Here het hom laat ry

oor die hoogtes van die aarde.

Hy het die opbrengs van die veld geëet.

Die Here het hom gevoed

met heuning uit 'n rotsskeur,

met olie uit 'n klipharde rots,

14met die dikmelk van beeste,

die melk van kleinvee,

ook met die vet van slaglammers,

ramme uit Basan, ook bokramme,

en met die fynste koringmeel.

En druiwebloed het jy gedrink –

gistende wyn.

15“ Jesurun het vet geword

en agterop geskop.

Jy het vet geword, rond geword,

eiesinnig geraak.

Hy het die God wat hom

gemaak het, versaak,

die Rots wat hom verlos,

met minagting behandel.

16“Hulle het die Here

met vreemde gode ontstel,

met afstootlike dinge

het hulle Hom getart.

17 Hulle het vir demone,

vir nie-gode, vir gode wat hulle

nie geken het nie, offers geslag –

nuwes wat maar onlangs

na vore gekom het,

gode wat vir julle voorouers

nie bestaan het nie.

18Die Rots wat jou verwek het,

het jy verontagsaam;

jy het die God wat jou

voortgebring het, vergeet.

19“ Die Here het dit gesien,

en uit ergernis sy seuns

en dogters verstoot.

20 Hy het gesê,

‘Ek wil my gesig vir hulle verberg;

Ek wil sien wat van hulle

gaan word,

want hulle is 'n verworde geslag,

kinders wat nie vertrou

kan word nie.

21 Hulle het My ontstel

met nie-gode,

My uitgetart

met hulle nietige afgode.

Ek gaan hulle ontstel

met 'n nie-volk,

met 'n dwase nasie

gaan Ek hulle tart.

22Want 'n vuur is aangesteek

in my toorn,

en dit brand tot in die •doderyk

daar onder.

Dit verteer die aarde

en sy opbrengs,

dit laat die fondamente

van die berge in vlamme opgaan.

23Ek bring meer rampe oor hulle,

my pyle skiet Ek alles op hulle af:

24Uitgemergel deur honger,

uitgeteer deur plae

en die verskriklikste pessiekte,

lewer Ek hulle uit aan

verskeurende diere

en giftige slange.

25Buite maai die swaard af,

en in die binnekamers die vrees –

jong man sowel as jong meisie,

die suigeling saam met die grysaard.

26 “ ‘Ek het gedink,

ek moet hulle uitwis,

die herinnering aan hulle

onder die mense laat verdwyn,

27was dit nie vir die ergernis

van vyande wat My

afgeskrik het nie.

Anders maak hulle teenstanders

'n verkeerde afleiding

en sê: “Ons mag het geseëvier;

die Here het niks hiervan gedoen nie.” ’

28“Ja, die vyand is 'n nasie

wie se planne gedaan is,

by wie daar geen insig is nie.

29 As hulle wys was,

sou hulle dit begryp,

hulle sou nadink oor hulle einde.

30Hoe kan een dan duisend agtervolg,

en twee tienduisend

op die vlug jaag

as hulle rots hulle

nie verkoop het nie,

as die Here hulle

nie oorgelewer het nie?

31Ja, hulle rots is nie

soos ons Rots nie

– ons vyande gee dit toe –

32want uit Sodom se wingerd

kom hulle wingerdstokkies,

van die terrasse van Gomorra

is hulle druiwekorrels.

Dit is giftige druiwe,

hulle dra bitter trosse.

33Hulle wyn is slanggif,

die dodelike gif van kobras.

34Die Here sê,

‘Is dit nie by My weggebêre nie,

in my stoorkamers verseël

35 vir die dag van wraak

en vergelding,

vir die tyd wanneer

hulle voete gaan wankel nie?

Want naby is die dag

van hulle teenspoed;

wat vir hulle gereed lê, kom gou.’

36“ Maar die Here laat reg geskied

aan sy volk,

oor sy diensknegte

ontferm Hy Hom,

wanneer Hy sien

dat hulle mag verdwyn het,

en dat die einde aangebreek het

vir wie gevange is

en vir wie vrygelaat is.

37 “Hy sal sê, ‘Waar is hulle gode,

die rots waar hulle geskuil het,

38wat die vet van hulle

slagoffers geëet,

en die wyn van hulle

•drankoffers gedrink het?

Laat hulle opstaan en julle help,

laat hulle oor julle

'n beskutting wees.

39Sien tog nou in dat Ek,

ja, Ek die Een is;

daar is geen god naas My nie.

Ek maak dood en Ek maak lewend;

Ek verpletter, ja, Ek maak gesond,

en niemand red uit my hand nie.

40 Ja, Ek hef my hand op

na die hemel

en sê: “So waar as wat Ek ewig leef,

41Ek gaan my flitsende swaard

skerp maak,

en my hand sal dit vir die vonnis vasgryp.

Ek gaan wraak neem

op my teenstanders,

my haters gaan Ek vergeld.

42Ek gaan my pyle dronk maak

van bloed –

my swaard sal vleis verslind –

van die bloed van gesneuweldes

en gevangenes,

van die vyand se leiers

met die los hare. ” ’

43 “Nasies, juig sy volk toe,

want Hy gaan die bloed

van sy diensknegte wreek;

Hy gaan wraak neem

op sy teenstanders

en versoening doen vir sy grond,

sy volk.”

44 So het Moses dan gekom en al die woorde van hierdie lied ten aanhore van die volk voorgedra, hy en Josua, die seun van Nun.

45Toe Moses klaar was met die voordra van al hierdie woorde vir die hele Israel,

46het hy vir hulle gesê: “Neem al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, ter harte – dat julle dit aan julle kinders moet opdra om al die woorde van hierdie wet nougeset na te kom.

47Want dit is nie 'n niksseggende saak vir julle nie, dit is immers julle lewe. Deur hierdie saak verleng julle die lewe op daardie grond waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem.”

Moses se seën

48 Die Here het op daardie selfde dag met Moses gepraat en gesê:

49“Klim teen hierdie Abarimberge op, teen die berg Nebo, wat in die land Moab teenoor Jerigo lê. Kyk dan na die land Kanaän, wat Ek vir die Israeliete as besitting gaan gee.

50Sterf op die berg waarteen jy opklim en word so met jou mense verenig, net soos Aäron, jou broer, op die berg Hor gesterf en met sy mense verenig is,

51 omdat julle aan My ontrou was tussen die Israeliete by die water van Meriba-Kades in die Tsinwoestyn; want julle het daar tussen die Israeliete nie my heiligheid in ag geneem nie.

52Ja, jy sal die land van die oorkant af sien; maar daarheen, na die land wat Ek aan die Israeliete gaan gee, sal jy nie gaan nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help