Jesaja 22 - Die Bybel 2020-vertaling

Bestraffing van Jerusalem

1'n Profesie oor die Dal van Visioene.

Wat is dit dan met jou,

dat al jou mense

op die dakke klim,

2rumoerige stad vol lawaai,

uitgelate dorp?

Jou slagoffers is nie slagoffers

van die swaard nie,

nie gestorwenes

van die oorlog nie.

3Al jou •aanvoerders

het saam gevlug,

sonder boog is hulle gevang.

Almal van jou wat gevind is,

wat lankal reeds gevlug het,

is saam gevang.

4Daarom het ek gesê:

“Kyk weg van my –

ek huil bitterlik.

Moenie daarop aandring

om my te probeer troos

oor die verwoesting

van die dogter van my volk nie.”

5Want 'n dag van paniek,

van vertrapping en verwarring

in die Dal van Visioene,

is gereed by die Here,

Heerser oor alle magte.

'n Geskreeu klink op –

hulpkrete na die berg.

6Elam het pylkokers opgeneem –

met 'n troepemag, met perde.

Kir ontbloot skilde.

7Stad, die keur van jou valleie

is vol strydwaens!

Die ruiters neem in slagorde

stelling in by die stadspoort!

8Die beskutting van Juda

is verwyder.

Op dié dag kyk jy met vertroue,

stad, na die wapenrusting

in die Saal van die Bos.

9Die bresse in die mure

by die Stad van Dawid

sien julle raak – dat dit baie is.

Julle gaar die water

van die onderste dam op;

10die huise in Jerusalem tel julle;

julle breek die huise af

om die stadsmuur

ondeurdringbaar te maak.

11'n Opgaardam maak julle

tussen die twee stadsmure

vir die water van die ou dam.

Maar julle kyk nie met vertroue

na Hom wat die stad

gemaak het nie;

en Hom wat haar gevorm het

in die verre verlede,

sien julle nie raak nie.

12My Heer, die Here,

Heerser oor alle magte,

het op daardie dag

'n oproep gedoen tot 'n gehuil,

tot roubeklag,

tot die kaal skeer van koppe

en die aangord van rouklere.

13Maar kyk, daar is vreugde

en blydskap:

“Laat ons beeste doodmaak

en kleinvee slag,

vleis eet en wyn drink!

Laat ons eet en drink,

want môre sterf ons! ”

14Die Here, Heerser oor alle magte,

het Hom aan my geopenbaar

terwyl ek luister.

“Vir hierdie sondeskuld sal nie vir julle versoening gedoen word totdat julle sterf nie,” het die Here, Heerser oor alle magte, gesê.

15So sê my Heer, die Here, Heerser oor alle magte: “Gaan na daardie versorger, na Sebna, hoof van die hofhouding, en vra hom,

16‘Wat maak jy hier?

Wie van jou mense is hier,

dat jy hier vir jou 'n graf

uitgekap het?’ ”

Hy was besig om op 'n hoë plek sy graf uit te kap, om in die rots vir hom 'n tuiste uit te beitel.

17“ ‘Kyk, die Here gaan jou,

manhaftige man, baie ver wegwerp.

Hy gaan jou stewig toedraai,

18jou in 'n bondel, soos 'n bal,

kragtig wegslinger

na 'n land wat wyd uitstrek

na alle kante.

Daar sal jy sterf;

daar sal jou roemryke

strydwaens wees –

die skande van die huis van jou heer!

19 Ek sal jou uit jou pos verwyder,

jy sal uit jou amp ontslaan word.’

20“Op daardie dag sal Ek

my dienskneg roep,

Eljakim, seun van Gilkija.

21Ek sal jou bokleed vir hom aantrek,

met jou lyfserp sal Ek hom versterk,

jou gesag aan hom oordra.

Hy sal 'n vader word

vir die inwoners van Jerusalem

en vir die huis van Juda.

22 Ek sal die sleutel van die huis

van Dawid op sy skouer plaas.

Hy sal oopmaak,

en niemand sal toesluit nie;

hy sal toesluit,

en niemand sal oopmaak nie.

23Ek sal hom as 'n pen inslaan

op 'n stewige plek;

hy sal as 'n roemryke troon geld

vir sy familie.

24“Hulle sal die volle gewig van sy familie daaraan ophang: die spruite en lote, en al die kleiner houers, van die bakkies af tot by al die kruike.

25Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, “sal die pen wat op 'n stewige plek ingeslaan is, meegee. Dit sal losbreek en val. Die las wat daaraan was, sal vernietig word, want die Here het gespreek.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help