Spreuke 19 - Die Bybel 2020-vertaling

1 'n Arme wat onberispelik leef,

is beter as iemand met vals lippe

wat boonop 'n dwaas is.

2 Sonder kennis is selfs ywer

nie goed nie,

en wie oorhaastig met sy voete is,

trap mis.

3 Die sotheid van 'n mens

gooi sy lewenspad omver,

maar sy hart tier teen die Here.

4 Besittings maak vriende baie meer,

maar 'n hulpelose

word deur sy vriend verlaat.

5 'n Vals getuie bly nie ongestraf nie,

en iemand wat leuens uitryg,

sal nie vrykom nie.

6 Baie soek die guns

van 'n vooraanstaande persoon,

en elkeen is die vriend

van 'n vrygewige man.

7 'n Arme se hele familie

het 'n weersin in hom;

hoeveel te meer sal sy boesemvriend

nie van hom af wegbly nie?

Hy probeer hulle met woorde bereik,

maar hulle is nie daar nie.

8 Wie verstand verkry,

het sy lewe lief;

hy koester verstandigheid

om die goeie te vind.

9 'n Vals getuie bly nie ongestraf nie,

en wie leuens uitryg, gaan ten gronde.

10 Weelde pas nie by 'n dwaas nie –

hoeveel minder pas dit 'n slaaf

om oor bevelvoerders te heers!

11 Die skranderheid van 'n mens

maak hom geduldig,

en dit is vir hom 'n eer

om 'n oortreding oor te sien.

12 'n Gebrul soos dié van 'n jong leeu,

so is die onbeheersde woede van 'n koning;

maar soos dou op die gras

is sy welwillendheid.

13 'n Dwase seun

is die ondergang van sy vader,

en die gekyf van 'n vrou

is soos 'n lekkende dak

wat aanhou drup.

14 'n Huis en besittings

is 'n erflating van ouers,

maar 'n verstandige vrou

is van die Here.

15 Luiheid laat iemand wegsink

in diepe slaap,

en 'n trae persoon ly honger.

16 Wie gebooie nakom,

beskerm sy lewe;

wie die weë van die Here minag,

sal sterf.

17 Wie hom oor 'n arme ontferm,

leen aan die Here,

en Hy sal hom vergoed

vir sy weldaad.

18 Straf jou seun terwyl daar hoop is,

maar moenie jouself opsweep,

en so sy dood veroorsaak nie.

19 Wie mateloos woedend word,

betaal altyd die boete;

as jy hom red,

sal jy dit weer moet doen.

20 Luister na raad

en aanvaar vermaning,

sodat jy uiteindelik wys kan wees.

21 Daar is baie planne

in 'n mens se hart,

maar die raad van die Here –

dít kom tot stand.

22 Wat van 'n mens verwag word,

is sy troue liefde,

en 'n arm mens is beter as 'n leuenaar.

23 Ontsag vir die Here lei tot lewe,

en 'n mens gaan versadig slaap;

deur 'n ramp word hy nie getref nie.

24 Steek die luiaard sy hand

in die skottel,

bring hy dit selfs nie eers

na sy mond terug nie.

25 Slaan jy 'n spotter,

dan word 'n onkundige slim;

die teregwysing van 'n verstandige

laat hom kennis verstaan.

26 Wie 'n vader geweld aandoen

en 'n moeder beseer,

is 'n seun wat skande maak

en skandelik optree.

27 As jy ophou, my seun,

om na vermaning te luister,

dan is dit net om te dwaal –

weg van die woorde van kennis.

28 'n Deugniet van 'n getuie

maak 'n bespotting van die reg,

en die mond van goddeloses

verslind boosheid.

29 Vonnisse is gereed vir spotters,

en slae vir die rûe van dwase.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help