Jesaja 38 - Die Bybel 2020-vertaling

Vertellings oor Hiskia

1 In dié tyd het Hiskia dodelik siek geword. Die profeet Jesaja, seun van Amos, het by hom aangekom en vir hom gesê: “So sê die Here, ‘Gee die laaste opdragte oor jou huisgesin, want jy gaan sterf; jy sal nie leef nie.’ ”

2Hiskia het sy gesig na die muur gedraai en tot die Here gebid.

3 Hy het gesê: “Ag, Here, dink tog daaraan dat ek in getrouheid en met 'n onverdeelde hart voor U geleef het, dat ek gedoen het wat goed is in u oë!” Hiskia het toe bitterlik gehuil.

4Die woord van die Here het tot Jesaja gekom:

5“Gaan sê vir Hiskia, ‘So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: “Ek het jou gebed gehoor; Ek het jou trane gesien. Kyk, Ek sal vyftien jaar by jou lewensdae voeg,

6 en Ek sal jou en hierdie stad red uit die greep van die koning van Assirië. Ek sal hierdie stad afskerm.

7 En dit sal vir jou van die Here af die teken wees dat die Here hierdie woord wat Hy gespreek het, sal uitvoer:

8Kyk, Ek sal die skaduwee van die sonwyser van Agas wat met die son afgeskuif het, tien eenhede laat terugskuif.” ’ ” Toe het die son die tien eenhede wat dit gesak het op die sonwyser, teruggeskuif.

9'n Geskrif van Hiskia, die koning van Juda, toe hy siek was en van die siekte herstel het.

10 Ek het by myself gedink,

in die middel van my lewensdae

moet ek deur die poorte

van die •doderyk gaan.

Ek is opgeroep vir die res

van my jare.

11 Ek het gedink:

Ek sal die Here nie sien nie –

die Here in die land

van die lewendes.

Ek sal nie meer na mense kyk

saam met die bewoners

van die wêreld nie.

12 My woonplek is afgeslaan

en van my weggeneem,

soos die tent van 'n herder.

Soos 'n wewer het ek my lewe

opgerol –

van die skering

het Hy my losgeknip.

Dag en nag laat U my dit ontgeld.

13Ek het om hulp geroep

tot die oggend.

Soos 'n leeu, breek Hy

al my beendere.

Dag en nag laat U my dit ontgeld.

14Soos 'n swaeltjie,

soos 'n kraanvoël, so kerm ek;

ek kla soos 'n duif.

My oë word klein soos ek kyk

na die hemel.

My Heer, dit druk swaar op my;

staan U vir my in!

15Wat kan ek sê?

Hy het dit vir my gesê;

Hy het self opgetree.

Sal ek al my lewensjare

moeisaam voortgaan,

weens die bitterheid

van my siel?

16 My Heer, mense leef

van wat U sê en doen;

en dit geld vir almal

in die lewensjare.

My lewensasem –

U moet my gesond maak,

hou my aan die lewe!

17Kyk, tot vrede

het my intense bitterheid gelei;

U self het my lewe teruggehou

van die kuil van vernietiging,

ja, U het al my sondes

die rug toegekeer.

18 Want die doderyk

sal U nie prys nie;

die dood sal U nie loof nie.

Dié wat na die put afdaal,

verlaat hulle nie op u trou nie.

19Dit is die een wat leef,

die een wat leef –

hý prys U, soos ek vandag.

'n Vader kan u trou bekend maak

aan sy kinders.

20Die Here is daar tot my redding;

ons sal my snaarinstrumente

laat opklink by die huis

van die Here solank ons leef.

21 Jesaja het gesê: “Hulle moet saamgeperste droë vye bring en aan die sweer smeer, sodat hy sal kan bly leef.”

22Hiskia het mos gevra: “Wat is die teken dat ek na die huis van die Here sal opgaan?”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help