Job 31 - Die Bybel 2020-vertaling

1“ Ek het 'n verbond met my oë gesluit –

hoe sou ek dan aandag gee aan 'n jongmeisie?

2 Watter erfdeel is daar

van God daar bo,

watter erfenis van die Almagtige

in die hoogtes?

3Is dit nie teenspoed vir 'n boosdoener,

en rampe vir wie onreg pleeg nie?

4 Sien Hy dan nie my paaie nie;

en al my treë, tel Hy dit nie?

5As ek vals sou optree,

en my voete hulle na bedrog haas –

6 laat God my dan weeg

op 'n onvervalste skaal,

sodat Hy van my onberispelike

optrede kan kennis neem.

7 As my voetstappe sou afwyk van die pad,

as my hart my oë gevolg het,

en daar aan my handpalms

'n smet gekleef het,

8 laat ek dan maar saai

en laat 'n ander dit eet,

laat wat vir my uitspruit,

ontwortel word.

9 As my hart hom laat verlei het by 'n vrou,

ek by die deur van my medemens op loer was,

10laat my vrou dan

vir iemand anders meel maal;

laat ander mans oor haar buig.

11 Want dit is 'n skanddaad,

dit is strafbare sondeskuld;

12ja, dit is 'n vuur wat tot in

die onderwêreld verteer;

dit sou my hele oes ontwortel.

13 As ek die regte van my slaaf

en slavin misken het

in hulle geskil met my,

14wat sal ek dan doen as God opstaan?

En as Hy my tot verantwoording roep,

wat sal ek antwoord?

15 Het Hy, wat my

in die moederskoot gemaak het,

hulle nie ook gemaak nie?

Het Een ons nie in die baarmoeder

voorberei nie?

16 As ek armes dit

wat hulle begeer, ontsê het,

die oë van 'n weduwee

laat verdof het,

17my stukkie brood alleen geëet het,

en as vaderlose kinders

nie daarvan geëet het nie

18– van my jeug af

het hulle immers by my

grootgeword soos by 'n vader,

en van die moederskoot af

het ek weduwees gelei –

19as ek 'n sukkelaar sou sien

sonder 'n bokleed,

of 'n behoeftige sonder

enige bedekking,

20as sy lyf nie dankbaar sou wees

teenoor my,

hy hom nie met die skeersel

van my jongskaap

sou warm maak nie,

21as ek my hand

teen 'n vaderlose kind gelig het,

omdat ek in die stadspoort

gemerk het dat ek

ondersteuning geniet,

22kan my bo-arm

maar uit die skouer val,

my voorarm maar

uit die elmboog gebreek word.

23 Want die teenspoed

wat van God kom,

is vir my 'n verskrikking;

teen sy majesteit

is ek nie opgewasse nie.

24 As ek my vertroue gestel het in goud,

vir fyngoud gesê het,

‘My veilige toevlug!’

25as ek my verbly het

oor my groot rykdom,

ja, omdat my hande

geweldig baie bereik het;

26 as ek na die son gekyk het

hoe dit skyn,

en na die maan

wat met grootsheid beweeg,

27sodat my hart in die geheim verlei is,

en my hand na my mond gebring is vir 'n soen,

28sou dit ook 'n strafbare sondeskuld wees,

omdat ek God daarbo sou verloën.

29 As ek my verheug het

oor die rampspoed

van die een wat my haat,

of uitbundig was toe die ellende

hom getref het,

30 het ek nie my mond

toegelaat om sonde te doen

deur sy lewe te eis

met 'n vervloeking nie.

31As die manne van my

huishouding darem nie gesê het nie,

‘Wie kan iemand uitwys

wat nie van sy vleiskos

versadig is nie?’!

32 'n •Vreemdeling sou nie

buite oornag nie;

my deure na die pad toe

het ek altyd oopgehou.

33 As ek, soos ander mense,

my oortredinge verberg het

deur my sondeskuld

in my binnesak weg te steek,

34omdat ek bang was

vir 'n groot menigte,

en die minagting

van familiegroepe my afgeskrik het,

dan sou ek swyg,

sou ek nie by die deur uitgaan nie.

35“ As daar maar iemand was

wat na my luister!

Hier is my teken.

Die Almagtige

moet my antwoord!

As daar maar 'n klagskrif was

wat my teenstander geskryf het,

36sou ek dit beslis op my skouer

gedra het,

as 'n kosbare hoofband

sou ek dit vir my ombind.

37Ek sou die getal van my treë

aan Hom voorhou,

soos aan 'n •leier

sou ek dit aan Hom voorlê.

38As my grond teen my om hulp geroep het,

die ploegvore saam getreur het,

39 as ek die opbrengs daarvan

geniet het sonder betaling,

en as ek die bewerkers daarvan

laat kreun het,

40laat daar dan in die plek

van koring sydissels uitspruit,

in die plek van gars, broodblom. ”

Hier eindig die woorde van Job.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help