Jesaja 18 - Die Bybel 2020-vertaling

Profesieë oor Kus en Egipte

1 Wee die land

met die gevleuelde bote,

anderkant die riviere van Kus,

2 wat gesante stuur oor die see,

in papirusbootjies

oor die watervlak!

Gaan, vinnige boodskappers,

na 'n nasie wat lank

en glansend is,

'n volk wat wyd en syd

gevrees word,

'n sterk en seëvierende nasie,

wie se land verdeel word

deur riviere!

3 Almal wat op die aarde woon,

al julle bewoners van die wêreld,

wanneer 'n banier op die berge

opgesteek word, moet julle kyk;

en wanneer 'n •ramshoring

geblaas word, moet julle luister.

4Want so het die Here vir my gesê:

“Ek sal rustig wees

en uit my woonplek toekyk,

soos versengende hitte

in helder daglig,

soos 'n newel

in die hitte van die oestyd.

5 Ja, voor die oes,

wanneer die bottyd verby is,

en die groen druiwe

wat ryp word tot volle bloei kom,

word die lote

met snoeimesse afgesny,

en die hegranke verwyder,

afgebreek.

6Hulle word saam agtergelaat

vir die roofvoëls op die berge

en diere van die land.

Die roofvoëls sal die somer

daarop deurbring,

en al die diere van die land

sal daarop oorwinter.”

7 In daardie tyd

sal geskenke gebring word

vir die Here, Heerser oor alle magte,

deur 'n volk wat lank

en glansend is,

'n volk wat wyd en syd

gevrees word,

'n sterk en seëvierende nasie,

wie se land verdeel word

deur riviere –

na die plek toe

waaraan die Naam

van die Here, Heerser oor alle magte,

verbonde is, na die berg Sion.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help