1 Timoteus 2 - Die Bybel 2020-vertaling

Voorskrifte aan die gemeente

1Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word,

2vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons 'n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei.

3Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser,

4 wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom.

5Want daar is een God,

en een Middelaar tussen God en die mense:

die mens •Christus Jesus,

6wat Homself as losprys vir almal gegee het,

tot getuienis op die bestemde tyd.

7 Hiervoor is ek aangestel as prediker en •apostel – ek praat die waarheid, ek lieg nie – as leermeester om die heidene in geloof en waarheid te onderrig.

8Ek verwag van die mans dat hulle op elke plek sal bid, met heilige hande omhoog, sonder woede en rusie.

9 So ook moet die vroue hulleself versier met behoorlike kleredrag, beskeie en sober, nie met haarvlegsels en goud of pêrels of duur klere nie,

10 maar – soos dit vroue pas wat bely dat hulle God aanbid – met goeie werke.

11 'n Vrou moet haar stilweg laat onderrig, in volle gehoorsaamheid.

12Ek laat nie toe dat 'n vrou onderrig gee, of oor 'n man gesag uitoefen nie; sy moet haar stil gedra.

13 Adam is immers eerste geskep, daarna Eva.

14 En Adam is nie mislei nie, maar die vrou het haar laat mislei, en het 'n oortreder geword.

15Maar sy sal verlos word te midde van kindergeboorte, mits hulle volhou om gelowig, liefdevol, heilig en ingetoë te leef.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help