Psalms 40 - Die Bybel 2020-vertaling

1Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm.

2 Ek het op die Here bly wag,

Hy het na my afgebuig

en my hulpgeroep gehoor.

3Hy het my opgetrek

uit die put van verderf,

uit die modderige slik.

Hy het my voete op 'n rotsbank

laat staan,

my voetstappe vastigheid gegee.

4Hy het 'n nuwe lied in my mond gelê,

'n lofsang vir ons God.

Baie sal dit sien, en ontsag hê,

ja, hulle sal op die Here vertrou.

5Gelukkig is die mens

wat sy vertroue in die Here stel,

en hom nie wend tot hoogmoediges

en dié wat hulle toevlug neem

tot leuens nie.

6So baie het U, Here my God, gedoen –

u wonders en wat U vir ons

beplan het.

Niemand kan met U vergelyk word nie.

Ek wil dit graag bekend maak,

en daaroor praat,

maar dit is te veel om op te noem.

7 Slagoffers en •graanoffers

is nie wat U wil hê nie –

U het my ore oopgemaak –

•brandoffers en •reinigingsoffers

het U nie gevra nie.

8Daarop het ek gesê:

“Kyk, ek het gekom –

in die •boekrol is oor my geskryf.

9Wat U behaag, my God,

wil ek graag doen;

u wet is in my binneste.”

10Ek het die goeie boodskap van geregtigheid

gebring in 'n groot byeenkoms,

kyk, my lippe hou ek nie dig nie.

U weet dit self, Here.

11U geregtigheid het ek

nie in my hart verberg nie,

oor u trou en verlossing het ek gepraat.

Ek het nie u troue liefde

en waarheid vir 'n groot

byeenkoms geheim gehou nie.

12U, Here, moet tog nie u ontferming

van my weerhou nie.

Laat u troue liefde en waarheid

my altyd veilig hou,

13want tallose gevare omring my.

My sondeskuld het my ingehaal,

sodat ek nie kan sien nie;

dit is meer as die hare op my kop.

My moed het my begewe.

14Mag dit U behaag om my te red, Here,

Here, kom my gou te hulp!

15Laat hulle almal saam

beskaamd en verleë staan,

hulle wat my lewe soek.

Laat hulle terugdeins en verneder word,

hulle wat behae het

in my teenspoed.

16Mag hulle ontredderd wees

deur hulle skande,

hulle wat vir my sê: “Aha! Aha!”

17Mag almal wat U soek

hulle verheug en in U bly wees;

mag hulle wat u verlossing liefhet,

voortdurend sê:

“Die Here is groot!”

18Ek is magteloos en behoeftig,

maar my Heer sal aan my dink.

U is my hulp, my bevryder.

My God, moenie talm nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help