Jesaja 25 - Die Bybel 2020-vertaling

1 Here, U is my God.

Ek verheerlik U, ek prys u Naam;

want U het wonders gedoen –

planne uit die verre verlede

bestendig en betroubaar uitgevoer.

2 Ja, U het van 'n stad 'n kliphoop,

van 'n versterkte stad

'n vervalle plek gemaak.

Die vesting van vreemdes

is nie meer 'n stad nie;

dit sal nooit herbou word nie.

3 Daarom sal 'n sterk volk U eer,

'n stad van magtige nasies

sal U vrees.

4Ja, U was 'n toevlug vir armes,

'n toevlug vir behoeftiges

in hulle nood,

'n skuilplek teen stortreën,

'n skaduwee teen hitte.

Want die asem van geweldenaars

is soos stortreën teen 'n muur,

5soos hitte in 'n dor streek.

U doof die rumoer van vreemdes uit;

soos hitte in die skadu van 'n wolk,

word die lied van geweldenaars gedemp.

6 Die Here, Heerser oor alle magte,

sal op hierdie berg vir al die volke

'n feesmaal van ryk geregte voorberei,

'n feesmaal met beleë wyn,

met ryk geregte vol murg,

met gesuiwerde, beleë wyn.

7Op hierdie berg sal Hy

die sluier verswelg,

die sluier oor al die volke,

die geweefde bedekking

oor al die nasies.

8Hy sal die dood vir ewig verswelg;

my Heer, die Here,

sal die trane van alle gesigte afvee.

Die bespotting van sy volk

sal Hy van die hele aarde af

verwyder.

Ja, die Here het gespreek.

9Hulle sal op daardie dag sê:

“Kyk, dit is ons God

op wie ons gewag het,

en Hy het ons gered;

dit is die Here op wie

ons gewag het!

Laat ons juig en bly wees

oor sy redding. ”

10 Ja, die hand van die Here

rus op hierdie berg;

maar Moab word daar waar hy is,

vertrap,

soos strooi vertrap word

in 'n mishoop.

11Moab sal sy hande uitstrek

in die strooi,

soos 'n swemmer sy hande

uitstrek om te swem.

Maar die Here sal sy hoogmoed

in vernedering verander,

ondanks die vaardigheid

van sy hande.

12 Die versterkte stad,

die toevlugsoord van jou stadsmure,

laat Hy tuimel, haal Hy neer,

gooi Hy neer op die grond,

tot in die stof.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help