2 Timoteus 1 - Die Bybel 2020-vertaling

1Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus, deur die wil van God, in ooreenstemming met die belofte van die lewe in Christus Jesus,

2aan Timoteus, my geliefde kind:

Genade, barmhartigheid en vrede van God, die Vader, en Christus Jesus, ons Here.

Danksegging

3Ek is dankbaar teenoor God, wat ek, soos my voorouers, met 'n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik, bedags en snags, in my gebede aan jou dink.

4As ek aan jou trane terugdink, verlang ek daarna om jou te sien, sodat ek met blydskap vervul kan word.

5Ek dink steeds aan jou opregte geloof, daardie geloof wat eers in jou ouma Loïs, en in jou moeder Eunice was – en ek is oortuig dat dit ook in jou is.

Getrouheid aan roeping

6Om hierdie rede herinner ek jou om die genadegawe van God, wat in jou is, deurdat ek jou die hande opgelê het, opnuut aan te vuur.

7God het ons tog nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

8 Moet jou dus nie skaam vir die getuienis van ons Here nie, ook nie vir my, sy gevangene, nie. Maar dra jou deel van die lyding vir die evangelie deur middel van die krag van God.

9Hy het ons verlos en geroep

met 'n heilige roeping –

nie op grond van ons dade nie,

maar op grond van sy eie besluit en genade.

Reeds van ewigheid af is dit in •Christus Jesus aan ons geskenk,

10en nou is dit geopenbaar

deur die verskyning van ons Verlosser, Christus Jesus,

wat die dood vernietig het,

en die lewe en die onverganklikheid

deur die evangelie aan die lig gebring het.

11 Hiervoor is ek as prediker, •apostel en leraar aangestel.

12Daarom ly ek ook hierdie dinge, maar ek skaam my nie; want ek weet in wie ek nog altyd my vertroue stel, en ek is oortuig dat Hy magtig is om die pand wat aan my toevertrou is, tot op daardie dag te bewaar.

13Hou, as voorbeeld van die suiwer leer, vas aan dit wat jy van my gehoor het; doen dit in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is.

14Bewaar die kosbare pand wat aan jou toevertrou is deur die Heilige Gees wat in ons woon.

15Jy weet dat almal in Asië, onder wie ook Figelus en Hermogenes, die rug op my gedraai het.

16Mag die Here barmhartigheid bewys aan Onesiforus se huisgesin, want hy het my dikwels opgebeur en hom nie vir my boeie geskaam nie;

17trouens, toe hy in Rome was, het hy ywerig na my gesoek en my gevind.

18Mag die Here gee dat hy op daardie dag barmhartigheid by Hom vind. Jy weet tog baie goed hoeveel diens hy in Efese aan my bewys het.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help