Hosea 4 - Die Bybel 2020-vertaling

Oordeel oor priesters en afgodsdiens

1 Luister na die woord van die Here,

Israeliete,

want die Here het 'n regsaak

teen die inwoners van die land:

“Omdat daar geen betroubaarheid,

geen troue liefde,

en geen kennis van God

in die land is nie,

2het meineed en bedrog,

moord, diefstal

en egbreuk toegeneem,

en bloedbad volg op bloedbad.

3 Daarom verdor die land,

en kwyn almal weg wat daarin woon

saam met die diere van die veld

en die voëls van die hemel.

Selfs die visse in die waters

word bymekaargemaak.

4“ Tog moet 'n mens nie aankla

en iemand teregwys nie,

want dit is jou mense met wie Ek

eintlik die stryd voer, priester.

5 Jy gaan vandag struikel;

ook profete sal vannag

saam met jou struikel,

en Ek gaan jou moeder laat omkom.

6“ My volk kom om

weens 'n gebrek aan kennis.

Omdat jy die kennis verwerp het,

sal Ek jou verwerp,

sodat jy nie meer vir My

priesterdiens doen nie;

omdat jy die wet van jou God

vergeet het,

sal Ek ook jou seuns vergeet.

7“ Hoe meer hulle geword het,

hoe meer het hulle teen My gesondig.

Hulle aansien sal Ek in skande verander.

8 Op die sonde van my volk teer hulle,

na hulle sondeskuld hunker hulle.

9 Dit sal met die priesters gaan

soos met die volk:

Ek gaan van hulle rekenskap eis

oor hulle optrede,

hulle vergeld vir hulle dade.

10Hulle eet,

maar sal nie versadig word nie;

hulle hoereer,

maar sal nie meer word nie.

Omdat hulle die Here verlaat het

om hulle toe te wy aan

11 hoerery;

en omdat wyn en •nuwe wyn

hulle verstand benewel,

12doen my volk navraag by 'n stuk hout;

sy wandelstok moet vir hom inligting gee.

Omdat 'n gees van hoerery

hulle laat dwaal,

hoereer hulle weg van hulle God af.

13 Op die bergtoppe slag hulle

en op die heuwels offer hulle,

onder eikebome, storaksbome

en terebintbome,

omdat daar goeie skaduwee is.

Daarom hoereer julle dogters,

en pleeg julle skoondogters egbreuk.

14Ek sal nie julle dogters

tot verantwoording roep

omdat hulle hoereer,

of julle skoondogters

omdat hulle egbreuk pleeg nie,

want die priesters

gaan eenkant toe met prostitute,

en saam met tempelprostitute

slag hulle offers.

'n Volk wat nie begrip toon nie,

gaan ten gronde.

15 “As jy hoereer, Israel,

moet Juda tog nie skuldig word nie.

Julle moenie na Gilgal gaan nie,

en moenie optrek na Bet-Awen nie.

Moenie sweer,

‘so waar as die Here leef’ nie.”

16 Ja, Israel is so weerbarstig

soos 'n weerbarstige koei.

Sal die Here hulle nou laat wei

soos 'n lam in die oopte?

17Efraim is verbind aan afgode –

laat hom met rus!

18Wanneer hulle drinkery ophou,

hoereer hulle op groot skaal.

Hulle het skande,

haar skaamtelose gedrag,

hartstogtelik lief.

19Die wind het haar

in sy vleuels opgerol,

hulle gaan in die skande kom

oor hulle offers.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help