Jesaja 29 - Die Bybel 2020-vertaling

1“Wee Ariël, Ariël, die stad

wat Dawid beleër het!

Laat jaar op jaar volg!

Laat die feeste hulle kringloop volg!

2Maar Ek sal Ariël

in benoudheid bring,

sodat daar verdriet

en droefheid sal wees.

Dan sal sy vir My

soos 'n vuurherd wees.

3 Ek sal jou reg rondom beleër,

Ek sal jou met wagposte omring,

beleëringswerke teen jou oprig.

4Jy sal verneder wees,

uit die grond sal jy praat,

uit die stof sal jou woorde

gedemp wees.

Soos dié van 'n waarsêergees,

sal jou stem uit die grond kom,

en uit die stof sal jou woorde

gefluister word.

5Die menigte vreemdes by jou

sal soos fyn stof word,

en soos kaf wat verwaai

die menigte geweldenaars.

Dit sal heel onverwags gebeur.

6 Van die kant van die Here,

Heerser oor alle magte,

sal daar afgereken word,

deur donderslae en aardbewings,

deur harde geluide,

deur storm en stormwind,

met verterende vuurvlamme.

7 Dit sal wees soos in 'n droom,

soos in 'n naggesig –

die menigte van al die nasies

wat teen Ariël veg,

almal wat haar en haar

versterkte vestings beveg,

hulle wat haar in die noute bring.

8Dit sal wees soos wanneer

'n honger mens droom:

Kyk, hy is besig om te eet;

maar as hy wakker word,

is sy keel leeg.

Dit sal wees soos wanneer

'n dors mens droom:

Kyk, hy is besig om te drink;

maar as hy wakker word,

is hy uitgeput

en sy keel is droog.

So sal dit met die menigte

van al die nasies wees,

hulle wat veg teen die berg Sion.”

9Wees maar verslae, verstom!

Hou julle blind, en wees verblind!

Hulle het dronk geword,

maar nie van wyn nie.

Hulle het gesteier,

maar nie van sterk drank nie.

10 Ja, die Here het 'n gees

van diepe slaap

oor julle uitgestort,

Hy het julle oë, die profete, gesluit;

julle koppe, die sieners, het Hy bedek.

11 Vir julle het die openbaring van al hierdie dinge geword soos die woorde van 'n verseëlde boekrol, wat hulle gee aan iemand wat kan lees, en sê: “Lees dit asseblief!” Dan sê hy: “Ek kan nie, want dit is verseël.”

12Die boekrol word dan gegee aan iemand wat nie skrif ken nie, met die woorde: “Lees dit asseblief!” Dan sê hy: “Ek ken nie skrif nie.”

13 My Heer het gesê:

“Omdat hierdie volk My nader

met hulle mond

en met hulle lippe My eer,

maar hulle hart ver is van My,

en hulle ontsag vir My bloot

'n aangeleerde menslike gebod,

14daarom, kyk, Ek sal voortgaan

om op 'n wonderlike,

wonderbaarlike manier

met hierdie volk te handel.

Die wysheid van hulle wyses

sal tot niet gaan,

en die insig van hulle verstandiges

sal verborge bly.”

15 Wee hulle wat planne

vir die Here diep wegsteek!

Hulle dade vind in die donker plaas,

en hulle sê:

“Wie sien ons en wie ken ons?”

16 Julle verdraai alles!

Of moet die pottebakker beskou word

as gelykwaardig met die klei,

dat die maaksel vir sy maker kan sê,

“Jy het my nie gemaak nie”,

en dit wat gevorm is

vir die pottebakker sê,

“Hy verstaan nie”?

17 Is dit nie nog net 'n rukkie nie,

dan verander die Libanon

in 'n vrugteboord,

en word die vrugteboord

as 'n bos beskou?

18 Die dowes sal op daardie dag

die woorde van 'n boekrol hoor.

Sonder donkerte en duisternis,

sal die oë van blindes sien.

19 Magteloses sal weer

vreugde ervaar in die Here,

en behoeftige mense sal juig

oor die Heilige van Israel.

20 Want gewelddadiges

is nie meer daar nie,

en spotters is tot niet;

almal wat gereed staan

om onreg te doen,

word uitgeroei –

21hulle wat mense deur woorde

as sondaars brandmerk,

wat strikke stel vir dié

wat mense in die stadspoort teregwys,

en wat oor nietighede

regverdiges dwarsboom

voor die gereg.

22 Daarom, so sê die Here vir die huis van Jakob, Hy wat Abraham gered het:

“Nou sal Jakob nie meer

beskaamd staan,

sy gesig nie meer bleek word nie.

23Want wanneer hulle

hulle kinders, die werk

van my hande,

in hulle midde sien,

sal hulle my Naam heilig.

Hulle sal die Heilige van Jakob

se heiligheid erken,

en vrees koester vir die God

van Jakob.

24Dan sal hulle wat verbyster

van gees is, insig leer ken,

en hulle wat gemurmureer het,

sal onderrig aanvaar.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help