OPENBARING 18 - Nuwe Lewende Vertaling

Die moeder van almal wat seksuele wanpraktyke beoefen, is vernietig

1Hierna het ek ’n ander engel uit die hemel sien afkom. Hy het oor groot mag beskik en die aarde is deur sy glans verlig.

2Hy het met ’n kragtige stem uitgeroep:

“Geval, geval het die grote Babilon!

Dit het die wegkruipplek geword

van die bose geeste,

’n skuilplek van elke onrein gees,

’n nes van elke onrein roofvoël

en van haatlike diere.

3Al die nasies het dronk geword

van die dwelmdrank van

haar seksuele wanpraktyke.

Die konings van die aarde het

ongeoorloofde seksuele

verhoudings

met haar gehad,

en die handelaars van die aarde

het ryk geword

uit haar grenslose weelde.”

4Toe het ek ’n ander stem uit die hemel hoor sê:

“Verlaat haar, my volk,

sodat julle nie deel het

aan haar sondes

en haar plae

julle nie ook tref nie.

5Haar sondes het so hoog

soos die hemel

opgehoop

en God het haar wandade onthou.

6Gee aan haar terug

wat sy uitgedeel het,

en gee aan haar dubbel soveel

as wat sy aan julle gedoen het.

In die beker waarin sy vervolging

vir julle gemeng het,

moet julle twee keer soveel inskink.

7In dieselfde mate waarin sy

haarself verheerlik

en weelderig geleef het,

moet julle haar ook pyn en smart

aandoen.

In haar hart spog sy:

‘Ek sit as ’n koningin op my troon.

Ek is nie ’n weduwee nie;

smart sal ek nooit ken nie.’

8Daarom sal al haar plae

haar op een dag oorweldig:

dodelike siekte, smart

en hongersnood.

Sy sal deur vuur verteer word,

want krágtig is die Here God

wat haar oordeel.”

9Die konings van die aarde wat seks met haar gehad het en hulle in weelderigheid gebaai het, sal huil en met groot droefheid reageer wanneer hulle die rook van haar uitgebrande liggaam sien.

10Omdat haar pyniging hulle die skrik op die lyf jaag, sal hulle ver weg gaan staan terwyl hulle sê:

“Hoe vreeslik, hoe vreeslik

is dit tog vir die groot stad Babilon,

die magtige stad!

Binne een uur

het die oordeel jou getref!”

Die handelaars van die aarde huil oor hulle verlies

11Die handelaars van die aarde huil en rou oor haar omdat niemand meer hulle vragte goed koop nie:

12vragte goud en silwer, kosbare stene en pêrels, fyn pers klerasie en bloedrooi sy, elke soort hout, elke ivoorvoorwerp, elke kosbare voorwerp van hout, koper of yster of marmer,

13kaneel en speserye, wierook, reukolie en reukwater, wyn en olyfolie, meel en koring, beeste en skape, perde, rytuie en slawe – sy het selfs met menselewens gesmous.

14Hulle sê:

“Hierdie luukse waarna jy

in jou diepste binneste

gesmag het,

is jou nou ontneem.

Al die weelderige

en blink dinge

is nou vir jou verlore

en hulle sal dit nêrens

en nooit weer vind nie.”

15Die handelaars van hierdie dinge wat hulleself deur haar verryk het, sal op ’n afstand gaan staan, omdat hulle bang is vir die foltering wat sy deurgaan. Hulle sal huil en rou

16terwyl hulle sê:

“Hoe vreeslik,

hoe vreeslik

is dit tog vir die groot stad,

uitgevat in fyn linneklere,

pers en bloedrooi,

en opgesmuk met goud,

kosbare stene en pêrels.

17In een enkele uur

is soveel rykdom uitgewis!”

Die seelui treur oor Babilon se vernietiging

Elke stuurman en elkeen wat per skip iewers heen vaar, die matrose en almal wat van die see afhanklik is, het op ’n afstand gaan staan,

18en hulle het geskreeu toe hulle die rook van haar verbranding sien. Hulle het gesê: “Watter stad was soos dié groot stad?”

19Hulle het toe stof op hulle koppe gestrooi en dit uitgeskreeu. Huilend en in rou gedompel, het hulle aanhou sê:

“Hoe vreeslik, hoe vreeslik

is dit tog vir die groot stad!

Almal wat skepe besit op die see,

het hulle verryk uit haar bates.

In een enkele uur is sy verwoes.”

20Wees uitgelate oor haar val, hemel,

en julle wat aan God gewy is,

apostels en profete!

God het die oordeel wat julle

uitgespreek het,

inderdaad oor haar gebring.

Die magtige Babilon het stil en verlate geword

21Toe het ’n baie sterk engel ’n yslike rots, so groot soos ’n maalklip, gevat en dit in die see gegooi en gesê:

“Net so gewelddadig sal

neergegooi word

Babilon, die groot stad,

en niemand sal dit

ooit weer vind nie.

22Die geluid van siterspelers en sangers,

van fluitspelers en

trompetblasers

sal nooit weer in jou

gehoor word nie.

Geen ambagsman, van watter

ambag ook al,

sal ooit weer in jou gevind word nie.

Die geluid van ’n meule

sal nooit weer in jou

gehoor word nie.

23Die lig van ’n lamp

sal nooit weer in jou skyn nie.

Die stem van ’n bruidegom en bruid

sal nooit weer in jou

gehoor word nie.

Jou handelaars was die magnate

van hierdie aarde,

want deur jou bedrieëry het hulle

al die nasies om die bos gelei.”

24In Babilon se strate is die bloed

van die profete gevind,

en van hulle wat aan God

toegewy is,

ja, almal wat op die aarde

doodgemaak is.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help