PSALMS 84 - Nuwe Lewende Vertaling

Ek verlang na u woning

1Vir die koorleier: Met musiek. Van die Koragiete. ’n Psalm.

2Hoe lief het ek u woonplek,

o Here, die Almagtige!

3 Here, ek verlang, ek hunker

na u woning.

Met my hele wese,

liggaam en gees,

wil ek jubel

oor die lewende God.

4Selfs ’n mossie kry hier ’n plek,

en die swaeltjie bou haar nes

en maak haar kleintjies groot

naby u altare, Here, die Almagtige,

my Koning en my God!

5Gelukkig is hulle

wat in u huis woon,

waar hulle U deurentyd kan loof.

Sela

6Gelukkig is hulle

wie se krag van U kom,

wat hulle harte rig

op ’n pelgrimstog.

7Gaan hulle deur ’n droë vallei,

word dit omskep

tot ’n fonteinedal.

Vroeë reëns

bring vir hulle seëninge.

8Hulle kragte sal vermeerder

tot hulle in Sion

voor God verskyn.

9 Here God, die Almagtige,

luister na my gebed.

Luister, o God van Jakob!

Sela

10O God, ons beskermer, kyk tog,

betoon genade

aan u gesalfde!

11Een dag in u tempel

is beter as duisend elders!

Ek staan liewer by die drumpel

van die huis van my God

as dat ek woon

in huise van goddeloses.

12’n Son en skild

is die Here God.

Die Here gee genade en eer.

Hy sal die goeie nie weerhou

van hulle wat doen

wat reg is nie.

13 Here, die Almagtige,

gelukkig is hy

wat op U vertrou.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help