SAGARIA 5 - Nuwe Lewende Vertaling

Die sesde visioen: die vlieënde boekrol

1Ek het weer opgekyk en ’n boekrol wat deur die lug vlieg, gesien.

2“Wat sien jy?” het die engel gevra. “Ek sien ’n boekrol wat vlieg,” het ek geantwoord. “Dit is omtrent nege meter lank en vier en ’n half meter breed.”

3Hy het toe vir my gesê: “Die boekrol bevat die vloek wat oor die hele land uitgaan. Die een kant sê dat almal wat steel, uit die land verdryf sal word. Die ander kant sê dat almal wat vals sweer, uit die land verdryf sal word.

4Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Ek stuur hierdie vloek tot binne-in die huis van elke dief en tot binne-in die huis van elkeen wat in my Naam vals sweer. My vloek sal in daardie huis bly totdat dit heeltemal vernietig is – selfs sy houtwerk en klippe.”

Die sewende visioen: die vrou in ’n mandjie

5Die engel wat met my praat, het vorentoe gekom en gesê: “Kyk op! Daar is iets wat in die lug verskyn.”

6“Wat is dit?” het ek gevra. Hy het geantwoord: “Dit is ’n mandjie om graan mee te weeg en dit is vol van die sonde van die mense oor die hele land.”

7Toe die swaar deksel van die mandjie opgelig word, sit daar ’n vrou binne-in.

8Die engel het gesê: “Haar naam is Goddeloosheid!” Hy het haar toe weer in die mandjie teruggedruk en die swaar deksel toegemaak.

9Ek het opgekyk en twee vroue met vlerke wat in die wind sweef, na ons toe sien aankom. Hulle het vlerke soos ’n ooievaar gehad en het die mandjie opgetel en daarmee die lug in gevlieg.

10“Waarheen vat hulle die mandjie?” het ek die engel gevra.

11Hy het geantwoord: “Na Babilonië toe, om daar vir die mandjie ’n tempel te bou. Wanneer die tempel gereed is, sal die mandjie daar op sy voetstuk neergesit word.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help