PSALMS 94 - Nuwe Lewende Vertaling

Die Regter van die hele aarde

1God wat onreg oordeel, Here,

God van oordeel,

vertoon tog Uself!

2Kom, Regter van die aarde!

Vergeld die hoogmoediges

volgens wat hulle verdien.

3Hoe lank, Here,

sal die goddeloses,

hoe lank sal die goddeloses

seëvier?

4Hulle borrel oor

met astrante woorde;

al die boosdoeners

spog daarmee.

5Hulle vertrap u volk,

Here,

en verdruk dié

wat aan U behoort.

6Weduwees en vreemdelinge

bring hulle om die lewe,

en weeskinders maak hulle dood.

7Hulle sê:

“Die Here sien dit nie;

die God van Jakob

bemerk dit nie.”

8Dink weer, julle onnoseles!

Wanneer word julle wys,

dwase?

9Is Hy wat die ore gemaak het,

doof?

Is Hy wat die oë gevorm het,

blind?

10Sou Hy wat die nasies straf,

dan nie straf nie?

Sou Hy wat onderrig,

aan kennis ontbreek?

11Die Here ken mense

se gedagtes,

Hy weet dat dit niks werd is nie.

12Geseënd is hulle

vir wie U vermaan, Here,

vir wie U uit u gebooie onderrig.

13U gee hom verligting

in moeilike tye,

maar vir die goddelose

wag ’n graf.

14Die Here sal sy volk

sekerlik nie verlaat nie,

en sy erfdeel

nie laat vaar nie.

15Regspraak sal kom

vir die regverdiges

en al die opregtes

sal dit soek.

16Wie beskerm my

teen goddeloses?

Wie staan my by

teen boosdoeners?

17As die Here

my nie gehelp het nie,

was die stilte van die graf my lot.

18Toe ek sê: “My voet gly!”

het u trou my ondersteun,

Here.

19Wanneer twyfel my oorweldig,

het u troos my verbly.

20Kan ’n bose regeerder

aan U verbind wees,

iemand wie se wette

ellende bring?

21Hulle span saam

teen regverdiges,

veroordeel onskuldiges

tot die dood.

22Maar die Here is my toevlug;

my God is ’n rots

waar ek kan skuil.

23Hy sal hulle sondes vergeld,

hulle vernietig

oor hulle boosheid.

Die Here ons God

sal hulle uitwis.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help