JEREMIA 1 - Nuwe Lewende Vertaling

1Hier is die woorde van Jeremia seun van Gilkija, ’n priester van Anatot in die Benjamingebied.

2In die dertiende jaar van koning Josia van Juda se regering het die boodskap van die Here na hom gekom. Josia was die seun van Amon.

3Die Here het aangehou om vir Jeremia boodskappe te gee, ook in die tyd van koning Jojakim, die seun van Josia, tot in die elfde jaar van koning Sedekia se bewind. In Augustus van daardie jaar is baie van die mense van Jerusalem in ballingskap weggevoer.

Die Here

roep Jeremia

4Die Here het vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

5“Ek ken jou

nog voordat jy gevorm is

in die skoot van jou moeder.

Voor jou geboorte al

het Ek jou gekies en aangestel

om namens My te praat

met die nasies

van die wêreld.”

6Ek het geantwoord:

“Nee, oppermagtige Here,

ek kan nie goed praat nie.

Ek is ook te jonk!”

7Maar die Here het geantwoord

en gesê:

“Moenie sê jy is te jonk nie.

Gaan na die mense

waarheen Ek jou stuur

en gee my boodskap vir hulle.

8Jy moet ook nie bang wees

vir hulle nie.

Ek sal by jou wees

en jou beskerm!

Ek is die Here wat so sê.”

9Toe het die Here

sy hand uitgesteek

en aan my mond geraak.

Hy het vir my gesê:

“Ek het my woorde

in jou mond gesit.

10Ek stel jou vandag aan

oor nasies en regerings,

om sommige te ontwortel

en plat te slaan,

om ander op te bou

en nuut te vestig.”

11Die Here het vir my gesê:

“Wat sien jy, Jeremia?”

Ek het geantwoord:

“Ek sien ’n amandeltakkie.”

12En die Here het vir my gesê:

“Ja, dit is ’n amandeltakkie.

En dit beteken dat Ek oplet

en gereed staan om te doen

wat Ek gedreig het om te doen.”

13Die Here het weer

met my gepraat

en gevra wat ek sien.

Ek het Hom geantwoord:

“Ek sien

’n kokende pot wat uit die noorde

oorval hiernatoe.”

14Toe sê die Here vir my:

“Uit die noorde

sal dodelike gevaar kom

oor almal wat in Juda woon.

15Ek laat die mense van

al die koninkryke

in die noorde

na Jerusalem kom,”

sê die Here.

“Hulle sal hulle trone kom neersit

by die ingang van die hekke.

Hulle sal Jerusalem

se mure aanval

en al die ander dorpe van Juda

binneval.

16So sal Ek my oordeel

uitspreek oor my volk

oor al hulle boosheid.

Hulle het My verlaat

en ander gode vereer.

Ja, hulle buig voor die beelde

wat hulle met hulle eie hande

gemaak het!

17“Staan op en trek jou aan, en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het. Moenie vir hulle bang wees nie, anders laat Ek jou dalk verleë voor hulle staan!

18Ek beskerm jou teen hulle. Ek maak jou soos ’n versterkte stad, so vasgeanker soos ’n ysterpaal of soos ’n muur wat van koper gemaak is. Jy sal sterk genoeg wees om jou teen die konings van Juda, hulle amptenare, hulle priesters en enige van die land se mense te handhaaf.

19Hulle sal jou probeer onderkry, maar dit nie regkry nie. Ek is aan jou kant en sal jou beskerm. Ek, die Here, belowe dit!”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help